Nieregeringsorganisasie

Valdis Dombrovskis (regs), toenmalige Eerste Minister van Letland, ontmoet 'n NRO-verteenwoordiger

'n Nieregeringsorganisasie (NRO) is 'n organisasie wat nie deel van 'n regering of 'n konvensionele winsgewende besigheid is nie.

NRO's word gewoonlik deur gewone landsburgers begin en kan deur regerings, stigtings, skole, besighede of mense in hulle privaat hoedanigheid befonds word. Sommige vermy formele befondsing heeltemal en word hoofsaaklik deur vrywilligers bestuur. NRO's is hoogs diverse groepe organisasies wat betrokke is by 'n wye verskeidenheid van aktiwiteite, en neem verskillende vorms in verskillende dele van die wêreld aan. Sommige kan liefdadigheidstatus hê, terwyl ander geregistreer kan word vir belastingvrystelling wat gebaseer is op die erkenning van die sosiale doelwitte. Ander kan as dekmantels vir politieke, godsdienstige of ander belange dien.

Die aantal NRO's in die Verenigde State is ongeveer 1,5 miljoen.[1] Rusland het 277 000 NRO's.[2] Indië het na beraming ongeveer 2 miljoen NRO's in 2009 gehad, net meer as een NRO per 600 Indiërs, en baie meer as die getal laerskole en primêre gesondheidsentrums in Indië.[3][4]

NRO's is moeilik om te definieer, en die term word nie altyd konsekwent gebruik nie. In sommige lande is die term NRO van toepassing op 'n organisasie wat in 'n ander land as 'n "Organisasie sonder winsoogmerk" bekend staan, en andersom. Daar is baie verskillende klassifikasies van NRO's wat gebruik word. Die algemeenste fokus is op "oriëntasie" en "werksaamheidsvlak". 'n NRO se oriëntasie verwys na die soort aktiwiteite wat dit dek. Hierdie aktiwiteite kan menseregte, die omgewing, die verbetering van gesondheid of ontwikkelingswerk insluit. 'n NRO se werksaamheidsvlak dui op die skaal waarop 'n organisasie werk, soos plaaslik, streeks, nasionaal of internasionaal.[5]

Die term "nieregeringssorganisasie" is in 1945 geskep toe die Verenigde Nasies (VN) gestig is.[6] Die VN, wat self 'n interregeringsorganisasie is, het dit moontlik gemaak vir sekere goedgekeurde, gespesialiseerde, internasionale nieregeringsagentskappe – d.w.s. nieregeringssorganisasies – om waarnemerstatus by hulle byeenkomste en sommige vergaderings te kry. Later is die term wyer gebruik. Vandag kan enige privaat organisasie, volgens die VN, wat onafhanklik van staatsbeheer is 'n NRO genoem word, mits dit niewinsgewend is en nie net 'n politieke opposisieparty is nie.

'n Eienskap wat hierdie onderskeie organisasies deel, is dat hulle niewinsgewende status beteken dat hulle nie deur korttermyn finansiële doelwitte belemmer word nie. Gevolglik kan hulle konsentreer op kwessies van byvoorbeeld klimaatsverandering, die voorkoming van malaria of 'n algehele verbod op landmyne. Opnames toon aan dat NRO's dikwels 'n groot mate van die publiek se vertroue ervaar, wat hulle 'n nuttige – maar nie altyd voldoende nie – verteenwoordiger vir die vraagstukke van die samelewing en belanghebbendes maak.[7]

  1. "Fact Sheet: Non-Governmental Organizations (NGOs) in the United States «". Humanrights.gov. 12 Januarie 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Desember 2013. Besoek op 24 Desember 2013.
  2. "Hobbled NGOs wary of Medvedev". Chicago Tribune. 7 Mei 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Maart 2016. Besoek op 13 Junie 2016.
  3. "India: More NGOs, than schools and health centres". OneWorld.net (in Engels). 7 Julie 2010. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Oktober 2012. Besoek op 7 Oktober 2011.
  4. "First official estimate: An NGO for every 400 people in India". The Indian Express. 7 Julie 2010.
  5. Vakil, Anna (Desember 1997). "Confronting the classification problem: Toward a taxonomy of NGOs". World Development. 25 (12): 2057–2070. doi:10.1016/S0305-750X(97)00098-3.
  6. Davies, Thomas (2014). NGOs: A New History of Transnational Civil Society. New York: Oxford University Press. p. 3. ISBN 978-0-19-938753-3.
  7. "The rise and role of NGOs in sustainable development" (in Engels). Iisd.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Mei 2020. Besoek op 24 Desember 2013.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search