Notre-Dame-katedraal

Notre-Dame-katedraal
Die wesfasade van die Notre-Dame-katedraal
Die wesfasade van die Notre-Dame-katedraal
Denominasie  Rooms-Katolieke Kerk
Huidige predikant(e)  Laurent Ulrich
Adres Cathédrale Notre-Dame de Paris, 6 Parvis Notre-Dame – Place Jean-Paul II, 75004 Parys

Die Notre-Dame-katedraal (Frans: Cathédrale Notre-Dame de Paris, [nɔtʁə dam də paʁi], ) dien as die Rooms-Katolieke aartsbisdom Parys se katedraal. Die katedraal is in 'n vroeggotiese styl en aan die Moeder Gods gewy. Dit het groot nasionale belang as kroningskatedraal van die tienjarige Hendrik VI van Engeland (as koning van Frankryk) in 1431 en van keiser Napoléon Bonaparte in 1804. In 1537 is die Notre-Dame gekies vir die huwelik van koning Jakobus V van Skotland met Madeleine van Frankryk. Franse konings is tradisioneel nie in Parys gekroon nie, maar in die katedraal van Reims. Die katedraal word daarnaas as die simboliese en geografiese middelpunt van Parys en heel Frankryk beskou. 'n Bronsster buite die katedraal markeer Point Zéro, die amptelike nul- en beginpunt van alle Franse paaie en motorweë.

Notre-Dame-katedraal, ca. 1930
Point Zéro – die nulpunt van alle Franse paaie – op die katedraalplein
Die katedraal se ligging op die Seine-eiland Île de la Cité – soos gesien vanaf die brug Pont de la Tournelle. In die antieke tydperk, toe Parys nog as Lutetia Parisiorum bekendgestaan het, was hier 'n Gallo-Romeinse Jupitertempel geleë

Sy klokke is in 1944 gelui om die bevryding van Duitse besetting te verkondig. Hierdie besetting het byna in 'n tragedie geëindig: op 23 Augustus van dié jaar het Adolf Hitler die bevel gegee om die katedraal en ander historiese monumente voor die onttrekking van Duitse magte uit die Franse hoofstad op te blaas. Die Duitse kommandant generaal Dietrich van Choltitz het egter geweier om dié bevel uit te voer.[1]

Die slagoffers van die terreuraanvalle in New York op 11 September 2001 en in Parys op 13 November 2015 is herdenk met die Notre-Dame se klokkespel.[2] Sedert 1979 is die Notre-Dame 'n Unesco-Wêrelderfenisgebied.

Die Notre-Dame-katedraal is gebou op die Île de la Cité-eiland in die middel van die Seinerivier in die sentrum van Parys, in opdrag van die biskop Maurice de Sully, tydens die regentskap van koning Lodewyk VII. Lodewyk, 'n bekende kruisvaarder, het die katedraal as simbool vir sy geloof laat oprig, ver van die gevegte in die Heilige Land, maar ook om die guns van kerkverteenwoordigers te wen.

Die eerste steen is in 1163 geplaas deur pous Alexander III. Die katedraal is in 1345 voltooi en tans, soos alle kerkgeboue in Frankryk volgens die Wet oor die skeiding van kerk en staat van Desember 1905, in staatsbesit, alhoewel Rooms-Katolieke kerkdienste steeds hier gehou word. Die Notre Dame is 130 meter lank en 40 meter breed, met 'n maksimale hoogte van 33 meter, en bied plek vir sowat 10 000 mense. Die twee kerktorings het albei 'n hoogte van 69 meter. Die suidtoring kan uitgeklim word en bied 'n uitsig oor die stad.

Gedurende die Franse Rewolusie is die katedraal en baie van sy kunsskatte in 1793 beskadig of geplunder. 28 standbeelde van konings is vernietig. Later het rewolusionêre dit tydelik omgeskep in iets wat hulle nader aan die hart gelê het as geloofsake – 'n wynkelder. Die rewolusionêr Maximilien de Robespierre het, eweneens in 1793, nuwe nie-religieuse betekenis aan die sakrale gebou gegee as "Tempel van die Rede".

Onder keiser Napoléon Bonaparte is die Notre-Dame se status as kerkgebou en plek van aanbidding herstel, maar min herstelwerk is gedoen om die katedraal van verval te red. Eers vanaf 1845 het dit 'n 23-jarige restourasie ondergaan deur E.E. Viollet-le-Duc. Die katedraal word bedreig deur verwering en lugbesoedeling. Sedert 1991 was daar 'n nuwe restourasie aan die gang wat amper voltooi was voor die brandramp van 2019.

  1. (de) www.welt.de: Geschichte – Zweiter Weltkrieg: "Brennt Paris – ja oder nein?" Besoek op 16 April 2019
  2. (en) Los Angeles Times, 15 April 2019: Notre Dame Cathedral devastated by fire, but part of the Paris icon is saved. Besoek op 16 April 2019

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search