Oplosmiddel

Terpentyn is 'n oplosmiddel vir verf.

'n Oplosmiddel is 'n vloeistof, vastestof of gas wat 'n ander vloeistof, vastestof of gas toelaat om daarin op te los. Algemene gebruike vir organiese oplosmiddels is droogskoonmaak (bv. tetrachloroëtileen), verfverdunner (bv. tolueen en terpentyn), naellakverwyderaar en gomoplossers (bv. asetoon, metielasetaat, etielasetaat), seep, parfuum (etanol) en in chemiese sintese.

Die gebruik van anorganiese oplosmiddels (behalwe water) is tipies beperk tot navorsingschemie en sekere tegnologiese prosesse. Oplosmiddels is gewoonlik vloeistowwe wat die vermoë het om vaste stowwe, ander vloeistowwe of gasse daarin op te los of te versprei. Sulke oplosmiddels word daagliks doeltreffend in huishoudings, laboratoria en die nywerheid gebruik.

Verskillende klasse dispersie sisteme, dit wil sê die verspreiding van 'n stof in 'n ander stof (die oplosmiddel). word onderskei: oplossings, kolloïde, en suspensies en emulsies. Die onderskeid tussen die verskillende klasse word op grond van die opgeloste stowwe se grootte en aard gemaak. Om as ʼn oplossing te kwalifiseer, moet die stof wat opgelos word (die opgeloste stof), molekules of ione (gelaaide deeltjies) met 'n diameter van 10−7 tot 10−6 mm wees, en die opgeloste stof en oplosmiddel moet tot 'n homogene mengsel verenig wees.

Dit beteken dat as die oplossing met behulp van 'n baie sterk mikroskoop bestudeer word, die opgeloste stof nie meer van die oplosmiddel onderskei kan word nie. Die bekendste en algemeenste oplosmiddel is water (H20). Wat ware mengsels vorm met byvoorbeeld ammoniak ('n gas), alkohol (ʼn vloeistof) en tafelsout ('n vaste stof). 'n Oplosmiddel moet aan sekere vereistes voldoen, want dit mag geen blywende chemiese reaksies met die opgeloste stof aangaan nie.

Omdat oplosmiddels vir 'n verskeidenheid doeleindes aangewend word, moet dit bestendig wees en ʼn lae kook punt hê. Wanneer dit gekook, gedistilleer of gekristalliseer word, moet daar geen onsuiwerhede of reste gevorm word nie. 'n Verdere voorwaarde is dat die oplosmiddel en die opgeloste stof weer deur 'n verskeidenheid van skeidingsmetodes, soos kristallisasie en distillasie, geskei moet kan word.

Die eienskap word baie in die nywerheid toegepas, byvoorbeeld vir die verkryging van sout uit seewater: die water word toegelaat om te verdamp en slegs die sout bly agter. Sekere opgeloste stowwe verkies om met spesifieke oplosmiddels te verbind omdat hulle sekere eienskappe soos elektriese ladings, grootte, ensovoorts, gemeen het. Die voorkeur word alledaags gebruik, soos wanneer koffie of tee gemaak word ('n aftreksel) of wanneer stowwe in chemielaboratoria gesuiwer word (ekstraksie).


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search