Oslo

Oslo
Oslove

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Noorweë Noorweë
 Provinsie (Fylke) Oslo
 Koördinate 59°55′N 10°44′O / 59.917°N 10.733°O / 59.917; 10.733
 Stigting Omtrent 1000
 Oppervlakte:  
 - Totaal 480 vk km
 Hoogte bo seevlak 1–631 m
 Bevolking:  
 - Totaal (31 Desember 2022) 709 037[1]
 - Bevolkingsdigtheid 1 477/vk km
 - Metropolitaanse gebied
(Stor-Osloregionen)
1 588 457
 - Taalvorm Onsydig
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat  
 - Tipe Gematigde seeklimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 7,0 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie –2,3 / 17,6 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 824,3 mm
 Burgemeester Anne Lindboe (H)
 Amptelike webwerf oslo.kommune.no

Oslo (Noors: [ˈʊ̂ʂlʊ ], of [ˈʊ̂slʊ, ˈʊ̀ʂlʊ]; Suid-Samies: Oslove) is die hoofstad van die Koninkryk Noorweë (Skandinawië, Noord-Europa) met 'n oppervlakte van 480 vierkante kilometer en 'n bevolking van 709 037 (soos op 31 Desember 2022). Oslo is die politieke, ekonomiese en kulturele sentrum van Noorweë en sy grootste stad. Byna 'n derde van die Noorse bevolking is in die metropolitaanse gebied van Oslo gekonsentreer, dit sluit voorstede soos Bærum en Drammen in. Die agglomerasie van Oslo – die derde grootste in Noord-EuropaStockholm en Kopenhagen – het 1,6 miljoen inwoners.

'n Aansig van die Barcode-woonstelkompleks in Sørenga teen sononder. Met die herontwikkeling van sy ou hawegeriewe volgens die Fjordbyen-projek, wat in 2016 voltooi is, het Oslo nuwe lewe in sy middestad ingeblaas en sy visie van 'n moderne Fjordstad verwesenlik

Die stad, wat deur bosgebiede en fjorde omring word, vorm 'n selfstandige fylke (provinsie) wat aan Akershus grens, en het uit 'n ou nedersetting ontstaan waarna daar reeds in 8ste eeuse historiese dokumente verwys is. Daarbenewens vorm dit ook 'n stedelike munisipaliteit (kommune). Vanweë die opgrawing van Christelike begraafplase uit die tydperk omtrent 1000 word hierdie periode as die stigtingsdatum van Oslo beskou, en die metropool het gevolglik in 2000 sy 1000ste verjaardag gevier. Oslo is sodoende een van die oudste Skandinawiese hoofstede.

Nadat groot dele van die stad in 1624 in 'n brand vernietig is, het die Deense koning Christiaan IV die stad met steengeboue laat herbou en dit Christiania genoem. In 1878 is die stadsnaam se spelling gewysig tot Kristiania. Die burgers van Kristiania het in 1925 besluit om weer die tradisionele Noorse naam vir hul stad te gebruik.

Alhoewel die stad op dieselfde breedtegraad soos die Finse hoofstad Helsinki, Sint Petersburg in Rusland of die Alaskaanse metropool Anchorage lê, het Oslo danksy die matige invloed van die warm Golfstroom 'n gematigde seeklimaat met dikwels warm somers en baie sonskyndae. Die hoofstadgebied is nogtans gedurende die Skandinawiese winter tussen drie en vyf maande lank met sneeu bedek, en die ski-oorde in die bergagtige omgewing van Oslo lok tussen Desember en April talle skitoeriste.

Vanweë die ekonomiese welvaart van die land en die behoefte aan bykomende opgeleide mannekrag het Oslo, soos ander groot stede in die land, talle immigrante gelok wat van Oslo vandag 'n baie kosmopolitaanse stad maak. Volgens jaarlikse ondersoeke van die Londense navorsingsinstelling Economist Intelligence Unit, wat die prysvlak van goedere en dienste in belangrike metropole ranglys, is Oslo sedert 2006 egter ook die duurste hoofstad ter wêreld.[2] Oslo staan daarnaas internasionaal bekend as die moederstad van die Nobelprys vir Vrede.

  1. (no) "De 10 største byene, tettstedene og kommunene i Norge". Statistiek Noorweë. 5 Januarie 2023. Besoek op 10 Mei 2024.
  2. (de) "Ekonomie van Noorweë". Duitse Departement van Buitelandse Sake. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 April 2008. Besoek op 21 April 2008.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search