Plesierboot

'n Plesierboot in die Noorse Geirangerfjord
Die plesierboot Regal Princess naby Warnemünde, Rostock in die Duitse deelstaat Mecklenburg-Voorpommere
Die MS Oasis of the Seas, wat deur die redery Royal Caribbean International bedryf word en sy tuishawe in Nassau, Bahama-eilande het, word onder die wêreld se megaskepe gereken - met 'n lengte van 360 meter en plek vir 'n maksimum van meer as 6 000 passasiers in kajuite op sestien dekke
Die MS Oasis of the Seas se loopgang en amfiteater

'n Plesierboot is 'n passasierskip wat vir toerismedoeleindes bedryf word om aan betalende gaste die ervaring van 'n seereis ter ontspanning te bied, met allerlei gerieflikhede soos vermaak, restaurante, kroeë, winkels en sport aan boord. Dit verskil sodoende van skepe wat 'n blote vervoerdiens aan passasiers verskaf en hulle van een seehawe na 'n ander neem. So word daar ook plesierbootvaarte aangebied waartydens die skip nie in enige hawe aandoen nie (die sg. "vaart na nêrens nie"), maar aan die einde van die seereis na die vertrekhawe terugkeer. As 'n drywende luukse hotel dien die plesierboot dan self as toeristebestemming. 'n Tweede, kleiner kategorie plesierbote is ontwerp vir riviervaarte.

Histories het plesierbote uit groot oseaanskepe soos byvoorbeeld die transatlantiese passasierskepe ontwikkel wat deur rederye op geskeduleerde roetes gebruik en teen die middel van die 20ste eeu deur stralervliegtuie verdring is. Hulle is van 'n hoër vryboord en 'n massiewer romp met dikker metaallae voorsien om 'n ruwe see op die oop oseaan te weerstaan. Hulle is daarnaas gekenmerk deur groter stoorkapasiteit vir brandstof, voedsel en ander benodigdhede. Alhoewel hulle van baie gerieflikhede vir passasiers voorsien is, is hulle minder geskik vir blote plesierreise in die tydperk van massatoerisme. So is hul brandstofverbruik merkbaar hoër, terwyl hul groter diepgang hulle tot aanlêplekke in die grootste seehawens beperk. Hul passierskajuite is meestal ontwerp om 'n maksimum-getal passasiers te akkommodeer - met 'n groot persentasie vensterlose kajuite en geslote weervaste skeepsdekke wat in tropiese klimaatstreke as onaangenaam ervaar word.

Met die geleidelike oorgang van groot oseaanskepe na moderne plesierbote is ontwerpe tegnologies aan veranderde behoeftes aangepas. So is die seevaardigheid ietwat verminder ter wille van meer gerieflikhede soos 'n groter aantal buitekajuite met balkonne. Akkommodasie van passasiers is sodoende verskuif van die romp se binnegedeeltes na 'n skip se superstruktuur. Meer onlangse ontwikkelinge soos die sterk groei in passasiersgetalle het bygedra tot die bou van sogenaamde megaskepe.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search