Rem

'n Skyfrem

'n Rem word gebruik om die snelheid van 'n bewegende voorwerp te verminder, of om te voorkom dat die voorwerp in beweging kom. Remme word ook gebruik om die snelheid van byvoorbeeld elektromotore te reguleer en dit binne sekere perke te hou.

Die werking van 'n rem berus op die omsetting van kinetiese energie (bewegingsenergie) in ander vorme van energie. Die omsetting van warmte (wrywingsenergie) word die meeste gebruik. Vir die omsetting na warmte word 'n remskoen gewoonlik teen ʼn draaiende onderdeel (as, skyf, trommel) gedruk waardeur wrywing die beweging teenwerk. Die remskoen het 'n remvoering wat van ʼn hittebestande wrywingsmateriaal gemaak is. Die wrywingsmateriaal bestaan gewoonlik uit asbesweefsel wat met metaaldraad gewapen is.

Die krag waarmee 'n remskoen teen 'n draaiende onderdeel druk, kan meganies, pneumaties, elektries of hidroulies oorgedra word. Om beskadiging en oormatige slytasie te voorkom, moet daar voldoende afvoer van warmte kan plaasvind. 'n Wye verskeidenheid remstelsels word in die praktyk gebruik. 'n Eenvoudige rem is byvoorbeeld die blokrem met 'n hol kant wat teen ʼn draaiende as of wiel gedruk word. Die trommelrem is doeltreffender as die blokrem en bestaan uit 2 halfronde remskoene wat van binne teen 'n trommel druk.

Dit bied die voordeel dat die trommel goed afgesluit kan word teen water en stof. By trommelremme word warmte egter moeilik afgevoer. 'n Skyfrem bestaan uit ʼn metaalskyf wat weerskante deur ʼn remblok vasgedruk word. Die skyfrem het 'n groot verkoelende oppervlak en kan maklik versien word. Skyfremme word veral by die voorwiele van motorvoertuie gebruik. 'n Bandrem bestaan uit 'n band wat met wrywingsmateriaal beklee is. Die band word met behulp van ʼn hefboom of stilstaande trommels styfgetrek om 'n draaiende onderdeel te rem. Bandremme word dikwels ook as koppelaars en as snelheidsreguleerders gebruik.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search