Ruimtekolonisasie

’n Kunstenaarsvoorstelling van ’n kolonie op die maan.
’n Voorstelling van ’n Bernal-sfeer.

Ruimtekolonisasie is die permanente bewoning deur die mens van ’n ander hemelliggaam as die Aarde. Daar is baie argumente ten gunste daarvan: twee daarvan is die oorlewing van die mensdom en die biosfeer indien ’n ramp die Aarde sou tref (natuurlik of deur die mens veroorsaak), en die groot hulpbronne in die ruimte vir die uitbreiding van die menslike gemeenskap.

Geen ruimtekolonies is nog gebou nie. Dit sal tans nog ’n groot tegnologiese en ekonomiese uitdaging wees. Ruimtekolonies sal in die materiële behoeftes van honderdduisende mense moet kan voorsien, in ’n omgewing in die ruimte wat menslike lewe baie vyandiggesind is. Dit sal tegnologieë moet behels soos beheerde ekologiese lewensondersteuningstelsels, wat nog nie tot op ’n betekenisvolle vlak ontwikkel is nie, en sal die tot nog toe onbekende kwessie moet kan hanteer oor hoe mense op lang termyn in sulke plekke sal optree en floreer. Weens die enorme koste daarvan om enigiets van die Aarde af die ruimte in te stuur – rofweg $20 000 (meer as ’n kwartmiljoen rand) per kilogram – sal ’n ruimtekolonie ’n geweldig duur projek wees.

Hoewel geen groot organisasie nog planne het om een te bou nie, was daar al baie voorstelle en ontwerpe vir ruimtekolonies en gissings daaroor, en daar is baie voorstanders van die idee, ook verskeie bekende wetenskaplikes soos Freeman Dyson.[1]

Aan die tegnologiese front is daar ’n voortdurende proses om toegang tot die ruimte goedkoper te maak en om geoutomatiseerde vervaardigings- en boutegnieke daar te stel.[2] Dit kan in die toekoms lei tot wydverspreide ruimtetoerisme, wat ’n stap nader aan ruimtekolonisasie sal wees.

  1. Britt, Robert Roy (8 Oktober 2001), The Top 3 Reasons to Colonize Space .
  2. Anthony, Sebastian (16 Junie 2014). "Space giants join forces to battle SpaceX: This is how cheap space travel begins". NASAspaceflight.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Desember 2019. Besoek op 10 Oktober 2014.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search