Seerowery

’n Tradisionele seerowersvlag, of Jolly Roger.
Capture of the Pirate, Blackbeard, 1718, deur Jean Leon Gerome Ferris, wat ’n geveg teen die seerower Swartbaard uitbeeld.

Seerowery is ’n rooftog of geweldsmisdaad deur een skip op ’n ander of op ’n kusgebied, gewoonlik met die doel om vrag of ander waardevolle ware of eiendom te steel. Mense wat by seerowery betrokke is, word seerowers genoem.

Die vroegste aangetekende gevalle van seerowery was in die 14de eeu v.C., toe die Seevolke, ’n groep rowers, skepe van die Egeïese en Mediterreense beskawings aangeval het. Smal seekanale wat skepe in voorspelbare roetes indwing, skep al lank die geleentheid vir seerowery,[1] asook vir die aanval van handelskepe om ’n vyand skade te berokken. Historiese voorbeelde sluit in die waters van Gibraltar, Madagaskar, Somalië en die Engelse Kanaal, waar geografiese strukture seerowery vergemaklik.[2]

Die Berberse seerowers en kapers word in Duits as Korsare aangedui. Na aanleiding hiervan word, dikwels ten onregte, veronderstel, dat baie van hierdie kapers verwant is aan die eiland Korsika.[3] In die Franse en Mediterreense gebiede is dikwels na hulle verwys as corsaires. Die woord vrybuiters is ook gebruik. Wanneer ander voertuie soos ’n vliegtuig betrokke is, word van ’n kaping of skaking gepraat. Kaapvaart is ’n vorm van seerowery in oorlogstyd waar die kaptein van ’n skip toestemming van ’n spesifieke land kry om vyandelike skepe aan te val en hul vrag buit te maak.[4] ’n Landweergawe van seerowery is struikrowery: waar rowers mense op ’n pad of in ’n bergpas in ’n lokval lei.[5]

Seerowery is in die 21ste eeu steeds ’n aansienlike probleem (met ’n geraamde wêreldwye verlies van $16 miljard per jaar in 2004),[6] veral in die waters tussen die Rooisee en die Indiese Oseaan, naby die kus van Somalië en van die Straat van Malakka en Singapoer (in 2004). In laasgenoemde seestraat het aanvalle op skepe sedertdien afgeneem tot geen.[7]

Vandag gebruik seerowers, gewapen met outomatiese wapens soos aanvals- en masjiengewere en handgranate, klein motorbote om skepe aan te val – ’n taktiek wat die feit uitbuit dat moderne skepe net ’n klein getal bemanningslede het. Hulle gebruik ook groter skepe, bekend as "moederskepe", om die motorbote te ondersteun. Die internasionale gemeenskap het met baie uitdagings te doen om moderne seerowers aan die pen te laat ry, want hierdie aanvalle kom dikwels in internasionale waters voor.[8] Sommige lande gebruik hulle vlootmagte om privaat bote teen seerowery te beskerm en seerowers te vang, terwyl sommige privaat bote gewapende sekuriteitswagte, hoëdrukwaterkanonne of radar gebruik om hulleself te beskerm.

  1. Pennell, C. R. (2001). "The Geography of Piracy: Northern Morocco in the Mod-Nineteenth Century". In Pennell, C. R. (red.). Bandits at Sea: A Pirates Reader. NYU Press. p. 56. ISBN 978-0-8147-6678-1.
  2. Heebøll-Holm, Thomas (2013). Ports, Piracy and Maritime War: Piracy in the English Channel and the Atlantic, c. 1280-c. 1330. Medieval Law and Its Practice. Leiden: Brill. p. 67. ISBN 9789004248168.
  3. Jamieson, Alan (2012). Lords of the Sea: A History of the Barbary Corsairs. London.{{cite book}}: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link)
  4. "TEDx Talk: What is Piracy?" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Junie 2020. Besoek op 23 Oktober 2014.
  5. Arquilla, John (2011). Insurgents, Raiders, and Bandits: How Masters of Irregular Warfare Have Shaped Our World. Ivan R. Dee. p. 242. ISBN 978-1-56663-908-8.
  6. "Foreign Affairs – Terrorism Goes to Sea" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Desember 2007. Besoek op 8 Desember 2007.
  7. "Drastic drop in piracy in Malacca Straits – MaritimeSecurity.Asia". maritimesecurity.asia. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2017. Besoek op 28 April 2018.
  8. D.Archibugi, M.Chiarugi (9 April 2009). "Piracy challenges global governance" (in Engels). openDemocracy. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 April 2009. Besoek op 9 April 2009.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search