Selfkonsep

'n Mens se selfkonsep is 'n versameling van oortuigings oor jouself. Jou selfkonsep is die antwoord op die vraag "Wie is ek?".

Selfkonsep verskil van selfbewustheid. Laasgenoemde verwys na die mate waartoe selfkennis op 'n gegewe tydstip op 'n mens se houdings en gesindhede van toepassing is. Selfkonsep verskil ook van selfbeeld of eiewaarde: selfkonsep is 'n kognitiewe of beskrywende komponent van die eie ek (bv. "ek kan vinnig hardloop"), terwyl selfbeeld evaluerend en uitgesproke is (bv. "ek voel goed oor die feit dat ek vinnig kan hardloop").

Selfkonsep bestaan uit 'n mens se self-skemas en vorm saam met selfbeeld, selfkennis en die sosiale self die mens in sy geheel. Dit sluit die self van die verlede, hede en toekoms in, waar die toekomstige self (of moontlike self) individue se idees van wat hulle kan bereik, wat hulle wil bereik, of wat hulle bang is om te bereik, verteenwoordig. Die moontlike self kan bepaalde gedrag aanspoor.

Die persepsie wat mense van hul verlede of toekomstige self het, hou verband met hul persepsie van hul huidige self. Die temporale selfevalueringsteorie betoog dat mense tot 'n positiewe selfevaluering geneig is deur hulself van hul negatiewe self te distansieër en meer aandag op hul positiewe kant te fokus. Mense is ook geneig om die verlede self minder positief te ervaar (bv. "ek is beter as wat ek was") en die toekomstige self meer positief (bv. "ek sal beter wees as wat ek nou is").


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search