Seoel

Seoel
서울특별시

Kaart Seël
Vlag
 Land Vlag van Suid-Korea Suid-Korea
 Streek Seoel Hoofstadgebied
 Koördinate 37°33′36″N 126°59′24″O / 37.56000°N 126.99000°O / 37.56000; 126.99000
 Stigting 18 v.C.
 Oppervlakte:  
 - Totaal 605,21 km²
 Hoogte bo seevlak 0–100 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2021) 9 765 869
 - Bevolkingsdigtheid 16 000/km²
 - Metropolitaanse Gebied 25 600 000
 Tydsone UTC+9 (KST)
 Burgemeester Oh Se-hoon (People's Power)
 Amptelike webwerf seoul.go.kr

Seoel (Koreaans: 서울, [sʰʌul], , letterlik: "hoofstad") is die hoofstad en grootste stad van Suid-Korea, geleë in die uiterste noordweste van die land en net 56 km suid van die grens met die kommunistiese Noord-Korea. Seoel is, met 'n bevolking van byna 10 miljoen, een van die grootste stede ter wêreld en het 'n oppervlakte van 605,21 km². 'Seoul' kom van die Koreaanse woord vir "hoofstad".[1] Seoel was die gasheerstad vir beide die Olimpiese Somerspele 1988 en Paralimpiese Somerspele 1988, asook een van die vergaderplekke van die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2002 wat Japan en Suid-Korea saam aangebied het.

Nagaansig van die Gyeongbokgung-paleis, die grootste van vyf koninklike residensies in Seoel van waar die Joseon-dinastie Korea tussen 1395 en 1910 geregeer het. Die Koreaanse naam van die paleis, wat vir amptelike onthale gebruik is en deel uitmaak van 'n hele kompleks, beteken "Paleis van stralende geluksaligheid".

Seoel se ongekende groei van 'n rustige residensiestad met 'n halfmiljoen inwoners voor die begin van die Korea-oorlog in 1950 tot een van die belangrikste wêreldmetropole weerspieël die geskiedenis van Suid-Korea en sy hard werkende bevolking wat in enkele dekades die transformasie van 'n bitterarm land tot een van die voorste nywerheidslande op aarde bewerkstellig het. Met 'n bevolking van meer as tien miljoen (na wie as Seoeliete verwys word) kwalifiseer Seoel as 'n megastad. Sy metropolitaanse gebied Sudogwon, waar met 25 miljoen inwoners die helfte van Suid-Korea se bevolking saamgetrek is, is die tweede grootste op aarde na dié van Tokio-Jokohama in Japan en sluit die miljoenestede Incheon en Suwon asook die provinsie Gyeonggi in.[2]

Ondanks Seoel se nuwe status as tegnologiese megastad hou sy bewoners, net soos ander Suid-Koreane, daarvan om in die veiligheid van oorgelewerde kulturele en religieuse tradisies gewortel te bly wat vrolike feeste insluit. Dit maak van Seoel 'n stad met aantreklike kontraste soos min op aarde – insluitende een van die mees gesofistikeerde kulinêre tradisies. Net soos moderne tegnologie (met elektroniese verbruikersware wat van mikrogolfoonde tot rekenaars en slimfone strek) vind Suid-Koreaanse ontwerpkuns, argitektuur, modes en musiekstyle soos K-pop, waarvan Seoel die bakermat is, ingang tot die westerse hoofstroomkultuur.

  1. (en) Yahoo – 20 Mei 2010 Geargiveer 7 Januarie 2007 op Wayback Machine
  2. (de) Klaus A. Dietsch: Seoul. Mit Incheon, Suwon und Ganghwa-Insel. Tweede hersiene uitgawe. Berlin: Trescher 2017, bl. 51

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search