Shakers

Shaker-skuur met drie verdiepings in Hancock Shaker Village, Massachusetts - 'n voorbeeld van baanbrekende vernuwing deur bekwame Shaker-ambagsmanne en boumeesters. Danksy die ongewone ronde ontwerp kon 'n enkele plaaswerker 52 koeie vanuit sy sentrale staanplek in die middel van voer en water voorsien
Die skuur se interieur

Die United Society of Believers in Christ's Second Appearing, algemeen bekend as Shaking Quakers, meestal kortweg Shakers na aanleiding van hul soms ietwat ekstatiese ritueel-godsdienstige danse, soms ook kort Believers genoem, is 'n charismatiese Christelike beweging wat sy wortels in 'n 18de eeuse stroming binne die Kwakerbeweging in Engeland, en, meer algemeen, in die Protestantse Hervorming en die Verligting het.

Die Shaker-gemeenskap, wat in 1747 deur Jane en James Wardley gestig is, is moontlik beïnvloed deur die Franse Kamisarde-beweging, 'n radikale stroming binne die Franse Hugenote wat sy oorsprong in die Cevennes-bergreeks het. Die Kamisarde, na wie ook as Franse Profete verwys is, het geglo dat hul spraakorgane deur 'n bonatuurlike krag oorgeneem kon word. So het hul rituele praktyke tydens kerkdienste onder meer skudbewegings, uitgelate skreeue, werwel- en ander danse en sang in vreemde tonge ingesluit. Ná die herroeping van die Edik van Nantes in 1685 het groepe Kamisarde hulle as godsdienstige en politieke vlugtelinge in Engeland gevestig. Hier het hulle voortgegaan om halfgeheime kerkdienste te hou, en blykbaar het ook die Wardleys in 1748 in aanraking gekom met hul geloofsbeginsels.

Die Shaker-gemeenskap se godsdienstige leerstellings is neergelê deur Ann Lee («Mother Ann», 1736–1784), 'n ongeletterde tekstielwerker wat as die tweede van agt kinders vir John Lees, 'n smid en sy vrou in Toad Lane (tans Toad Street), Manchester, Engeland gebore is.[1]

As een van die Nuwe Wêreld se belangrikste utopiese Christelike gemeenskappe was die leefstyl van Shakers onlosmaaklik verbonde met dié van landelike Amerika. Vir hul voortbestaan was Shaker-gemeenskappe as hoogs gespesialiseerde kommunalistiese nedersettings en landbouprojekte aangewese op bekwame vaklui en landboudeskundiges wat by hulle aangesluit het. Albei leefstyle - dié van afgesonderde gemeenskappe wat saamgesnoer is deur hul geloofsoortuigings en dié van oorwegend selfversorgende landelike boerderye - het in die loop van die 20ste eeu, met die toenemende industrialisering, verstedeliking en individualisering van die Amerikaanse samelewing, hul ondergang tegemoet gegaan.

  1. Richard Francis: Ann the Word: The Story of Ann Lee, Female Messiah, Mother of the Shakers, the Woman Clothed with the Sun. New York: Arcade Publishing 2013, bl. 3

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search