Telefoonhokkie

’n Suid-Afrikaanse telefoonhokkie.
Kenmerkende VK rooi telefoonhokkies.
’n K6-telefoonhokkie en ’n Eduard VII posbus by die Amberley Working Museum.

Die telefoonhokkie, openbare telefoon, oproephokkie of tiekieboks, is ’n klein struktuur wat met ’n betaaltelefoon toegerus is en vir ’n telefoongebruiker se gerief ontwerp is. In die Verenigde State van Amerika en Kanada word die benaming telephone booth gebruik, terwyl daar in die Verenigde Koninkryk en die res van die Statebond van ’n telephone box of phone-box gepraat word. In die Verenigde Koninkryk word die telefoonhokkie gekenmerk deur die aanwesigheid van ’n deur (om privaatheid te bied) en ’n venster (sodat ander mense kan weet wanneer die telefoon beset word). In hierdie telefoonhokkie kan daar dikwels ’n telefoongids te vinde wees, terwyl ’n telefoonhokkie in ’n meer formele ligging, soos in ’n hotel, met ’n pen, papier en selfs ’n sitplek toegerus kan wees. ’n Buitenshuise telefoonhokkie kan van metaal of plastiek gemaak wees om weerstand teen die elemente ruwe gebruik te bied, terwyl ’n binnenshuise telefoonhokkie meer noukeurig rakende die argitektuur en meublement afgewerk kan wees. [1] Op die meeste buitenshuise telefoonhokkies sal die telefoondiensteverskaffer se naam en naambeeld pryk.

Langafstandoproepe is nie veel gedurende die 19de eeu gemaak nie: stemme en geraas in die agtergrond van die telefoonhokkie kon by die ontvanger gehoor word, en boonop kon die harde gepraat in die praatbuis, veral op die platteland, die bure steur. Om hierdie probleme die hoof te bied, is "stilhokkies" opgerig. Die meeste was by die persele van telefoonmaatskappye te vinde, en is weelderig toegerus, tot by die eeuwending, toe hulle by spoorwegstasies, hotelle en ander plekke waar ’n menigte mense verwag is, hul verskyning begin maak het. [1] Geargiveer 22 Augustus 2009 op Wayback Machine Hulle het in die 1910’s in nywerheidslande meer algemeen, maar minder weelderig, geword. ’n Bekende gier onder studente in 1959 was telefoonhokkieopstopping ("phone booth stuffing"), waar gekyk is hoeveel mense moontlik in ’n standaard telefoonhokkie geprop kon word. [2]

Vanaf die 1970’s het betaaltelefone al hoe minder in die VSA in hokkies verskyn. In plekke waar hulle vroeër algemeen voorgekom het, is hulle amper heeltemal deur oningeslote telefone vervang (soortgelyk aan die moderne Suid-Afrikaanse telefoonhokkies). Dit is in die Verenigde State gedoen in ’n poging om die betaalfone meer toeganklik vir die gestremdes te maak. In die Verenigde Koninkryk het die telefone meestal in hulle hokkies behoue gebly. Weens die 1990’s se sellulêre telefoon-handelshoogty, het die aantal telefoonhokkies in Brittanje skerp begin afneem.

Die meeste plekke bied betaaltelefone wat aan ’n oopraamstruktuur, eerder as in hokkies, gemonteer is. Hierdie gebrek aan privaatheid en gemak ontmoedig lang oproepe in ’n gebied waar daar 'n hoë aanvraag is, soos by ’n lughawe.

Spesiale toerusting wat by party telefoonhokkies geïnstalleer kan word, is versoenbaar met ’n gebruiker se rekenaar, ’n draagbare faksimileemasjien of ’n telekommunikasiemiddel vir die dowes.

  1. Melchior Telematics (2007). "Public Telephones" (in Fins). Melchior Telematics. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Maart 2016. Besoek op 4 Desember 2007.
  2. Marum, Andrew; Parise, Frank (1984). "Telephone booth stuffing (1959)." ("Follies and Foibles section"). New York: Facts on File, Inc. pp. 108–109. ISBN 0-87196-820-7.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search