Tetrargie

Portret van die Vier Tetrarge, ’n standbeeld wat nou in die Sint Markus-basilika in Venesië staan.

Die term "tetrargie" (van die Griekse τετραρχία, tetrarchia, "leierskap van vier") beskryf enige regeringsvorm waarin die mag tussen vier mense verdeel word, maar in die moderne betekenis dui dit meestal op die stelsel wat die Romeinse keiser Diocletianus in 293 ingestel het en wat die begin was van die herstel van die Romeinse Ryk ná die krisis van die 3de eeu. Die tetrargie het geduur tot omstreeks 313, toe wedersyds verwoestende oorloë die meeste van die aanspraakmakers op die mag uitgeskakel het. Konstantyn die Grote is in beheer van die westelike deel van die ryk gelaat en Licinius van die oostelike deel.

Hoewel die woord in die Oudheid bekend was, is dit net vir ander lande soos Judea gebruik en nooit vir Diocletianus se stelsel nie. Die term was wel bekend in die Latynse wêreld, waar Plinius die ouere dit soos volg opgesom het: "elk is die ekwivalent van ’n koninkryk, en ook deel van een" (regnorum instar singulae et in regna contribuuntur).[1]

Die term is in 1887 die eerste keer vir die Romeinse Ryk gebruik deur die Duitse onderwyser Hermann Schiller in ’n handboek, Geschichte der Römischen Kaiserzeit. Dit is daarna steeds nie algemeen gebruik nie, totdat die Duitse historikus Otto Seeck dit in 1897 gebruik het.[2]

  1. Leadbetter, Galerius, 3.
  2. Leadbetter, Galerius, 3–4.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search