Toilet

Toilette oor die wêreld heen is in verskeie vorme te kry, insluitende (van links) spoeltoilette om op te sit of hurk, en droë toilette soos puttoilette.

'n Toilet is waar die meeste mense van liggaamlike afvalstowwe, soos urine en ontlasting, ontslae raak. Spoeltoilette gebruik water, maar droë toilette nie. Hulle kan ontwerp wees met 'n toiletsitplek vir mense wat sit, soos in die Weste, met aanpassings vir gestremdes, of vir mense wat hurk, wat gewilder in Asië is. In stedelike gebiede is spoeltoilette gewoonlik verbind met 'n rioolstelsel en in afgeleë gebiede met 'n verteerput. Droë toilette is verbind met 'n put, verwyderbare houer of ander toestel.

Japan is bekend vir sy toilettegnologie. Vliegtuie het spesiaal ontwerpte toilette wat ontwerp is om in die lug te werk. 'n Toilet is gewoonlik toegerus met toiletpapier of 'n sitbadjie.

In privaat huise kan 'n toilet in dieselfde vertrek as 'n bad, stort of wasbak voorkom. 'n Ander opsie is om die toilet in 'n aparte vertrek te hê, veral vir gaste. Openbare toilette bestaan gewoonlik uit een of meer toilette vir gebruik deur die publiek, asook 'n urinaal in manstoilette vir gemeenskaplike gebruik. Produkte soos ontsmetblokkies help die reuk en higiëne in toom hou. Dikwels word draagbare toilette (gewoonlik chemiese toilette) gebruik vir groot, tydelike byeenkomste.

Sanitasie was histories 'n kommer sedert die vroegste menslike nedersettings. In baie arm lande gebruik mense egter steeds basiese, dikwels onhigiëniese toilette – en byna 'n miljard mense het geen toegang tot 'n toilet nie; hulle moet openlik ontlas en urineer.[1] Dié kwessies kan lei tot die verspreiding van siektes wat van die anus tot die mond oorgedra word, of van siektes wat deur water versprei word soos cholera en disenterie. Daarom wil die Verenigde Nasies "toegang tot voldoende en billike sanitasie en higiëne bereik en 'n einde bring aan openlike ontlasting".[2]

  1. WHO and UNICEF (2017) Progress on Drinking Water, Sanitation and Hygiene: 2017 Update and SDG Baselines. Geneva: World Health Organization (WHO) and the United Nations Children’s Fund (UNICEF), 2017
  2. "Goal 6 Targets". United Nations Development Programme. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Februarie 2018. Besoek op 16 November 2017.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search