Trosbom

’n Rockwell B-1 Lancer bomwerper van die V.S.A laat los 'n vrag trosbomme

'n Trosbom is 'n soort bom wat vanaf die lug of grond gelanseer kan word en 'n groot aantal kleiner bomme uitskiet. Gewoonlik is trosbomme ontwerp om vyandige soldate en voertuie te vernietig. Daar is egter ook trosbomme wat spesifiek daarop gemik is om aanloopbane en elektriese transmissielyne te vernietig. Andere is ontwerp om chemiese- en biologiese wapens te versprei of om landmyne te versprei.

Trosbomme word nie deur enige spesifieke internasionale wetgewing beheer nie, maar die internasionale humanitêre reg wat daarop gemik is om burgerlikes te beskerm is wel van toepassing soos in die geval van alle ander wapens. 'n Inisiatief bekend as die Oslo Proses is in Februarie 2007 deur die Noorweegse regering van stapel gestuur om 'n internasionale verdrag daar te stel om burgerlikes te beskerm teen trosbomme wat onaanvaarbare leed aan burgerlikes veroorsaak. Op 29 Mei 2008 het 'n honderd nasies in Dublin, Ierland ooreengekom om 'n verbod op trosbomme te plaas.[1][2] Verskeie van die wêreld se groot militêre moondhede is egter nie by hierdie verdrag ingesluit nie soos onder ander die V.S.A., Rusland en China.

  1. http://news.bbc.co.uk/1/hi/world/7424347.stm
  2. http://news.sbs.com.au/worldnewsaustralia/campaigners_hail_cluster_bomb_treaty_547962

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search