Turbo-folk

Turbo-folk is 'n musikale genre wat sy oorsprong in Serwië (Suidoos-Europa) het. Alhoewel dit nog sterk met Serwiese musikante verbind word, het dit intussen ook in ander lande op die Balkan-skiereiland, waaronder Bosnië en Herzegowina, Slowenië, Kroasië en Montenegro gewild geword. Verwante musiekstyle is Laïka en Skyladiko in Griekeland, Manele in Roemenië en Chalga in Bulgarye.

Turbo-folk het in die laat 1970's as 'n subgenre van folkmusiek begin ontwikkel. Tradisionele volksmusiek is met dans en/of elemente van popmusiek (soos pop-folk, dans-pop, rock- en tegno-musiek) vermeng en elektroniese musiekinstrumente ingespan. Turbo-folk is in die vroeë 1990's met nasionalistiese neigings in die voormalige Joego-Slawië verbind, maar het intussen gedepolitiseer sodat die bemarking van turbo-folk-kunstenaars oor landsgrense heen vergemaklik is.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search