Turyn

Turyn
Città di Torino

Kaart (provinsie) Wapen
Vlag
 Land Vlag van Italië Italië
 Administratiewe gewes Piëmont
 Metropolitaanse stad Turyn (TO)
 Koördinate 45°04′N 07°42′O / 45.067°N 7.700°O / 45.067; 7.700Koördinate: 45°04′N 07°42′O / 45.067°N 7.700°O / 45.067; 7.700
 Stigting Omstreeks 28 v.C.
 Oppervlakte:  
 - Totaal 130,17 vk km
 Hoogte bo seevlak 239 m
 Bevolking:  
 - Totaal (31 Januarie 2022) 847 287
 - Bevolkingsdigtheid 6 500/vk km
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat  
 - Tipe Gematigde klimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 11,6 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 1,3 / 22,0 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 914 mm
 Burgemeester Stefano Lo Russo (PD)
 Amptelike webwerf comune.torino.it

Turyn (Italiaans: Torino; Piëmontees, Duits, Engels en Frans: Turin, Nederlands: Turijn) is die hoofstad van die administratiewe gebied Piëmont en 'n groot nywerheidsentrum in die noordweste van Italië met 'n bevolking van sowat 878 600 in die stads- en 1,7 miljoen in die metropolitaanse gebied.

Net die boonste verdiepings van 'n wolkekrabber, wat kantore van die administratiewe streeksregering huisves, bly sigbaar terwyl digte mis oor Turyn hang. Termiese inversies kom in die wintermaande gereeld in die Povlakte voor
'n Begrafnismasker in die Egiptiese Museum van Turyn
Die wolkekrabber, wat as hoofkwartier van die bank Intesa San Paolo dien, is deur die Genuese argitek Renzo Piano ontwerp en in 2015 ingewy

Eeue lank het Turyn as setel van die koninklike Huis van Savoje en as hoofstad van die gelyknamige koninkryk gedien. Veertien kastele en slotte in Turyn en sy onmiddellike omgewing getuig van hierdie verlede. Gedurende die 19de eeu was Turyn die spilpunt van Italië se nasionale beweging, die Risorgimento, wat hom vir die skepping van 'n Italiaanse eenheidsstaat beywer het. Die vereniging van Italiaanse state in 'n gemeenskaplike Koninkryk Italië is in 1861 onder leiding van die Koninkryk Piëmont bewerkstellig. Die residensies van die Huis van Savoje is deur Unesco in 1997 as wêrelderfenis gelys.

Piëmont se belangrike bydrae tot die vereniging van Italiaanse state en die feit dat Rome in 1861 nog deel uitgemaak het van die Kerklike Staat was die redes vir die keuse van Turyn as voorlopige hoofstad van Italië. Vier jaar lank het koning Viktor Emmanuel II die nuut verenigde land vanuit Turyn geregeer voordat Florence vanweë sy sentrale ligging as nuwe voorlopige regeringsetel aangewys is. Eers in 1870, toe Italiaanse magte Rome ingeneem het, kon die stad aan die Tiberrivier as hoofstad fungeer.

Vanaf die vroeë 20ste eeu, maar veral in die dekades ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog is die ekonomiese en maatskaplike lewe in Turyn deur die motorvervaardiger Fiat oorheers. Fiat was een van die dryfkragte agter Turyn se vinnige industrialisering en sy groei tot een van Italië se belangrikste groot nywerheidstede waar werksoekendes uit alle dele van die land hulle kom vestig het. Ná die fascistiese magsoorname onder Benito Mussolini in 1922 het Fiat ook militêre tegnologie begin ontwikkel en vervaardig. Turyn se strategiese belangrikheid vir die Italiaanse wapenbedryf het van die stad gedurende die Tweede Wêreldoorlog een van die hoofteikens van lugaanvalle gemaak wat grootskaalse skade aangerig het. Ná die oorlog was Turyn een van die stede wat die vinnigste herstel en met sy snel groeiende nywerheidsproduksie bygedra het tot Italië se "ekonomiese wonder" in die 1950's en 1960's. Die motorbedryf het met begin van die 1990's strukturele veranderings ondergaan waardeur sy belangrikheid afgeneem het en die getal aanlegte en werksgeleenthede merkbaar verminder is.

Turyn staan tradisioneel as die stad van die barok- en Art Nouveau-boustyle bekend; die stad beskik daarnaas oor 'n groot aantal arkades. Saam met die uitbou van die infrastruktuur het internasionale argitekte soos Renzo Piano, Gae Aulenti en Arata Isozaki opspraakwekkende voorbeelde van moderne boukuns ontwerp. Twee universiteite met sowat 100 000 studente dra by tot Turyn se reputasie as een van die kulturele metropole van Noord-Italië. Hier word jaarliks een van die grootste internasionale boekskoue in Europa gehou, die Salone Internazionale del Libro. Turyn het in Februarie 2006 as gasheerstad van die Olimpiese Winterspele opgetree.

Die Rooms-Katolieke katedraal van Turyn kry besondere betekenis deur die sogenaamde Lykkleed van Turyn (la Sacra Sindone), die beweerde grafdoek van Jesus Christus wat in 'n spesiale kas bewaar word. Die grafdoek dateer volgens wetenskaplike ondersoeke nie uit Jesus van Nasaret se tyd nie en word deur die Rooms-Katolieke Kerk ook nie as outenties geag nie. Nogtans is godsdienstige betekenis as ikoon aan die grafdoek toegeken.

Versamelings van onskatbare waarde word in die Museo Egizio, die Egiptiese Museum van Turyn, bewaar en vertoon. Sy versamelings van antieke Egiptiese kuns is die grootste ter wêreld buite Egipte – sy vertoonsale het 'n oppervlakte van 10 000 vierkante meter. 6 500 van altesaam 32 000 kunsvoorwerpe in besit van die museum word vertoon.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search