Uitgewery

'n Uitgewery, uitgewer of uitgewersmaatskappy is 'n firma wat publikasies soos boeke, tydskrifte en koerante laat saamstel en in die handel bring.

'n Uitgewer is dus 'n sakeman wat besef dat daar by die gemeenskap 'n behoefte bestaan aan 'n publikasie soos byvoorbeeld 'n boek oor 'n besondere onderwerp. Dan nader so 'n uitgewer 'n kenner oor die onderwerp met die versoek om 'n manuskrip daaroor aan hom voor te lê. Dit kan ook wees dat so 'n kenner op eie inisiatief 'n boek geskryf het en dit aan die uitgewer aanbied. Sodra die manuskrip ontvang word, word dit aan 'n paneel kenners vir kommentaar voorgelê. As die firma daarna sou besluit dat dit finansieel die moete werd is om die boek uit te gee, word die manuskrip deur 'n redakteur of redakteurs deeglik gelees en daarna word aan die skrywer voorstelle gemaak oor moontlike veranderinge en verbeteringe aan die inhoud, taal, spelling en styl. Die ISBN word bepaal. Kunstenaars en fotograwe help met die illustrasies, ontwerp van die stofomslag en die bladuitleg en 'n indeks word saamgestel. Daarna word in oorleg met die drukker besluit op die soort papier waarop die boek gedruk word, die besondere lettertipe wat gebruik sal word, op die soort binding (harde- of sagteband) en wat die oplaag (die aantal kopieë) van die eerste druk sal wees. Daarna reël die uitgewer die publisiteit vir die nuwe boek, verskaf kopieë aan resensente en versprei eksemplare na die boekwinkels. Ongeveer dieselfde prosedure word gevolg met die uitgee van 'n tydskrif, koerant, musiek of ander inligtingsbronne. Teenswoordig word al hoe meer in digitale vorm gepubliseer.

Gewoonlik ontvang 'n skrywer 'n vasgestelde bedrag vir elke kopie van sy boek wat verkoop is. Dit staan bekend as die tantième.

Voor die 18de eeu was die drukker, uitgewer en boekhandelaar gewoonlik dieselfde persoon. In die 19de eeu het die beroepstakke vanmekaar geskei.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search