Ultraviolet

Osoonvlakke by verskeie hoogtes en die blokkering van verskillende golflengtes van ultravioletstraling. Feitlik alle UVC word geblokkeer deur suurstof (100–200 nm) of osoon (200–280 nm) in die atmosfeer. Die osoonlaag blokkeer dan die meeste UVB. Osoon het egter byna geen invloed op UVA nie en die meeste daarvan bereik die aarde.

Ultraviolet (afgekort UV, ook genoem ultravioletstraling of ultravioletlig) is elektromagnetiese straling net buite die deel van die spektrum wat die menslike oog kan waarneem. Die golflengte van ultraviolet lê tussen 10 en 400 nm (nanometer), dus "verby violet", en dit is wat die woord "ultraviolet" beteken. In verband met die uitwerking van ultravioletlig op die mens en omgewing, word onderskei tussen UVA, UVB en UVC. Eersgenoemde het ’n golflengte van tussen sowat 315 en 400 nm (lang golwe). UVB se golflengte is tussen 280 en 315 nm en dié van UVC tussen 100 en 280 nm (kort golwe).[1] Straling met ’n golflengte tussen rofweg 10 en 100 nm word ekstreme ultraviolet (EUV) genoem.

Hoewel ultraviolet nie deur die mens gesien kan word nie, kan naby-ultraviolet wel deur sommige voëls en insekte waargeneem word. Die meeste mense is ook bewus van die uitwerking van UV op die vel, wat sonbrand genoem word. Benewens kortgolf-UV wat deur suurstof geblokkeer word, word ’n groot deel (meer as 97%) van middel-UV deur die osoonlaag geblokkeer. Albei sou groot skade aan lewende organismes aangerig het as dit deur die atmosfeer gedring het. Dit is slegs danksy die osoonlaag dat lewe op aarde moontlik is.

Ultravioletstraling is in 1801 deur Johann Wilhelm Ritter ontdek toe hy met silwerchloried gewerk het. Die straling laat silwerchloried vinnig van kleur verander.

  1. "ISO 21348 Definitions of Solar Irradiance Spectral Categories" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 29 Oktober 2013. Besoek op 8 September 2013.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search