Vogese

Die ligging van die Vogese in Europa

Die Vogese (Frans: les Vosges, Duits: Vogesen, vroeër ook Wasgenwald) is 'n bergreeks in die noordooste van Frankryk, wat 'n natuurlike grens tussen die geweste Lotaringe en Elsas vorm. Die bergmassief het sy naam ook aan die Lotaringiese département Vosges verleen.

'n Tipiese landskap in die Vogese: Die Vallée du Chajoux

Die Vogese lê aan die westelike kant van die Rynvallei en strek in noord-noord-oostelike rigting van die gewes Franche-Comté en die omgewing van Basel (Switserland) tot by die gebied van Mainz (Duitsland). Die bergreeks lê heeltemal op Franse grondgebied, waar dit deur die geweste Franche-Comté, Lotaringe en Elsas loop, en word deur die Rynvallei van die Swartwoud (Duits: Schwarzwald) en deur die Col de Saverne van die Paltiese Woud (Duits: Pfälzerwald) geskei.

Die hoogste bergspits is die Grand Ballon (wat soms ook Ballon de Guebwiller genoem word) met 'n hoogte van 1 424 meter. Die suidelike Vogese maak deel uit van die Parc naturel régional des Ballons des Vosges, terwyl die mees noordelike deel die Parc naturel régional des Vosges du Nord vorm.

Die Vogese is die tuiste van sowat 380 000 mense, en die natuurskoon van die gebied lok jaarliks sowat 900 000 toeriste uit die binne- en buiteland.

Die Vogese het tydens die Tersiêr onder die druk van die Alpe en die Jura-bergreeks gevorm. Die noordelike gedeelte bestaan oorwegend uit rooi gneis, die Suid-Vogese uit graniet.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search