Voorgeskiedenis

Stonehenge in Suid-Engeland, wat minstens 4 000 jaar gelede deur mense uit die Nuwe Steentydperk opgerig is.

Voorgeskiedenis of oertyd verwys na die tydperk voor aangetekende geskiedenis of die uitvinding van skryfstelsels, dus voordat die mens die geskiedenis begin dokumenteer het.[1] In ’n breër sin verwys dit na die tyd voor die mens se bestaan.

Die begrip voorgeskiedenis het tydens die Verligting ontstaan in die werk van oudheidkundiges wat die woord "primitief" gebruik het om gemeenskappe te beskryf wat voor geskrewe rekords geleef het.[2] Later is die term "voorgeskiedenis" gebruik. Dit kan verwys na die miljarde jare vanaf die begin van die heelal, maar gewoonlik word bedoel die tydperk vandat lewe op aarde begin verskyn het, of meer spesifiek die tyd sedert die eerste mense hul verskyning gemaak het.[3][4]

Die menslike voorgeskiedenis word gewoonlik verdeel in drie tydperke, wat genoem is na die tegnieke wat in dié tye gebruik is om gereedskap te maak: die Steen-, Brons- en Ystertydperk. Vir tye voor die mens se bestaan word die geologiese tydskaal gebruik waarvolgens die aarde se geskiedenis in verskillende geologiese tydperke en ooreenstemmende rotslae ingedeel word.

Die ontstaan van skryfstelsels (en dus die begin van die "geskiedenis") word gewoonlik vereenselwig met kulture wat tydens óf die laat Brons- óf die Ystertydperk geleef het. Historici steun al hoe minder op geskrewe dokumente en al hoe meer op bewyse uit die natuur- en sosiale wetenskappe – en so vervaag die grens tussen die terme "geskiedenis" en "voorgeskiedenis" algaande.[5][6][7]

Hierdie artikel handel oor die menslike voorgeskiedenis, of die tyd vandat mense met moderne gedrag en anatomie hul verskyning gemaak het, tot met die aangetekende geskiedenis.

  1. Renfrew, Colin. Prehistory The Making Of The Human Mind. New York: Modern Library, 2008.
  2. Eddy, Matthew Daniel (2011). "The Line of Reason: Hugh Blair, Spatiality and the Progressive Structure of Language". Notes and Records of the Royal Society. 65: 9–24.
  3. Fagan, Brian. 2007. World Prehistory: A brief introduction New York: Prentice-Hall, 7de uitg.
  4. Renfrew, Colin. 2008. Prehistory: The Making of the Human Mind. New York: Modern Library
  5. The Prehistory of Iberia: Debating Early Social Stratification and the State edited by María Cruz Berrocal, Leonardo García Sanjuán, Antonio Gilman, bl. 36.
  6. Pedro Paulo A. Funari, Martin Hall, Sian Jones (red.). Historical Archaeology: Back from the Edge, bl. 8.
  7. Walter E. Ras. Through the Ages in Palestinian Archaeology: An Introductory Handbook, bl. 49.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search