Vryheidstandbeeld

Vryheidstandbeeld*
Unesco-wêrelderfenisterrein

Die Vryheidstandbeeld op Liberty Island, New York, VSA
Ligging van Vryheidstandbeeld op 'n kaart (Verenigde State)
Vryheidstandbeeld
Vryheidstandbeeld
Ligging van die Vryheidstandbeeld in die Verenigde State
Koördinate: 40°41′21″N 74°02′40″W / 40.68917°N 74.04444°W / 40.68917; -74.04444Koördinate: 40°41′21″N 74°02′40″W / 40.68917°N 74.04444°W / 40.68917; -74.04444
Lande Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
Tipe Kultureel
Kriteria i, vi
Verwysings 307
Streek Noord-Amerika
Inskripsiegeskiedenis
Inskripsie 1984  (8ste Sessie)
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn.
Streek soos deur Unesco geklassifiseer.

Die Vryheidstandbeeld, ook bekend onder sy Engelse naam Statue of Liberty (amptelik Liberty Enlightening the World; Frans: La Liberté éclairant le monde) is 'n kolossale neo-klassieke standbeeld op Liberty Island in die New Yorkse hawe in die Verenigde State van Amerika. Die koperstandbeeld, wat deur die mense van Frankryk aan die mense van Amerika geskenk is, is ontwerp deur die Franse beeldhouer Frédéric Auguste Bartholdi en sy metaalraamwerk is gebou deur Gustave Eiffel van Eiffeltoringfaam. Dit is op 28 Oktober 1886 ingewy.

Liberty Island met die Vryheidstandbeeld.

Die standbeeld stel die godin Libertas voor – sy hou 'n fakkel bo haar kop met haar regterhand en in haar linkerhand hou sy 'n tablet met die datum JULY IV MDCCLXXVI (4 Julie 1776 in Romeinse syfers), die datum van die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring. 'n Gebreekte boei en ketting lê aan haar voete terwyl sy vorentoe loop; dit vier die afskaffing van slawerny kort tevore.[1] Die standbeeld het ná sy oprigting 'n ikoon van vryheid en van die VSA geword; dit word beskou as 'n simbool van verwelkoming aan immigrante wat per boot in die land aankom.

Bartholdi is geïnspireer deur die Franse regsprofessor en politikus Édouard René de Laboulaye, wat glo in 1865 gesê het enige monument wat opgerig word om die Amerikaanse onafhanklikheid te vier, behoort 'n gesamentlike projek van die Franse en Amerikaners te wees. Die Frans-Duitse Oorlog het die projek tot in 1875 vertraag, toe Laboulaye voorgestel het Frankryk finansier die standbeeld en Amerika verskaf 'n terrein en bou die voetstuk.

Dit was moeilik om geld in te samel, veral in Amerika, en teen 1885 is bouwerk aan die voetstuk byna in die wiele gery deur 'n gebrek aan fondse. Die uitgewer Joseph Pulitzer van die New York World het 'n projek begin om geld in te samel en meer as 120 000 bydraers gewerf, waarvan die meeste minder as 'n dollar (in 2020 sowat $29 werd) gegee het. Die beeld is in Frankryk gebou, in kratte na Amerika vervoer en op die voltooide voetstuk aanmekaargesit.

Die Amerikaanse vuurtoringraad het die standbeeld tot in 1901 geadministreer en daarna die Amerikaanse departement van oorlog. Sedert 1933 onderhou die nasionale parkdiens die standbeeld, wat 'n groot toeriste-attraksie is. Die publiek se toegang tot die balkon om die fakkel is in 1916 verbied.

  1. "Abolition". Statue of Liberty National Monument (in Engels). National Park Service. 26 Februarie 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 November 2019. Besoek op 18 November 2019.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search