Warskou

Warskou
Warszawa

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Pole Pole
 Woiwodskap Masowië
 Koördinate 52°14′N 21°1′O / 52.233°N 21.017°O / 52.233; 21.017
 Stigting (eerste verwysing) 1281/1321
 Stadstatus 1334
 Oppervlakte:  
 - Totaal 517,24 vk km
 Hoogte bo seevlak 78–116 m
 Bevolking:  
 - Totaal (31 Desember 2021) 1 795 569[1]
 - Bevolkingsdigtheid 3 460/vk km
 - Metropolitaanse gebied 3 100 844[2]
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat  
 - Tipe Kontinentaal-gematig
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 8,0 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie -2,4 / 19,1 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 555 mm
 Stadspresident Rafał Trzaskowski (PO)
 Amptelike webwerf warszawa.pl

Warskou (Pools: Warszawa, [varˈʂava], ) is die hoofstad van die Republiek Pole en die administratiewe sentrum van die woiwodskap Mazowieckie (Masowië). Dit is ook die grootste stad van Pole met 'n bevolking van 1,76 miljoen in die stad self en sowat 3,1 miljoen in die metropolitaanse gebied. Warskou is die agste grootste stad in die Europese Unie.

Warskou, soos gesien vanuit die Paleis van Kultuur en Wetenskap se uitsigplatform. Die Poolse hoofstad se argitektuur word oorheers deur 'n verskeidenheid skakerings van grys wat net voor sononder in sagte lig getooi word
Varso Place (links), ontwerp deur die Britse argitektepraktyk Foster + Partners in opdrag van die Slowaakse belegger HB Reavis Poland en tans in aanbou, sal na sy voltooiing in 2020 met 310 m die hoogste wolkekrabber in die Europese Unie wees
Net soos in ander wêreldmetropole het luukse woonstelle in skraal residensiële toringgeboue gewild geraak: Cosmopolitan Twarda 2/4 in die middestad

Warskou is aan die Weichsel- (Wisła-) rivier geleë en tans een van die belangrikste ekonomiese, kulturele en politieke sentra in Sentraal- en Oos-Europa. Die stad is die setel van 'n Rooms-Katolieke aartsbiskop, beskik oor talle universiteite, die Poolse Akademie van Wetenskappe, 'n operahuis, teaters, musea, biblioteke en monumente. Die historiese stadskern van Warskou is in 1980 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys. Die belangrikste argitektoniese besienswaardighede sluit die Kasteelplein met die koninklike kasteel en die Sigismund-monument, die Sint-Johannes-katedraal, die Jesuïetekerk en die markplein in die historiese stadsentrum met sy geboue in die Renaissance- en Barokstyl in.

Warskou se ekonomie word deur 'n wye verskeidenheid nywerhede gekenmerk, waaronder voertuigvervaardiging, metaalverwerking, staalvervaardiging, presisiewerktuie en elektroniese toerusting, tekstiel-, papier-, leer- en voedselverwerking. Die stad is 'n beduidende sentrum van die Poolse mediabedryf, en talle uitgewerye is hier gesetel. Die Warskouse effektebeurs is die belangrikste in die land. Toerisme is een van die toonaangewende bedrywe in die dienstesektor. As die belangrikste Poolse vervoersentrum beskik Warskou oor twee internasionale lughawens.

Die eerste historiese verwysing na Warskou dateer uit die jaar 1313, tog het aanvanklik Krakow (Pools: Kraków) as Poolse hoofstad gefungeer. Eers in die 16de en 17de eeu het die Poolse monarge begin om die land vanuit Warskou te regeer – dit was koning Sigismund III wat Warskou in 1596 tot hoofstad van die Koninkryk Pole verhef het, terwyl Krakow se funksie vervolgens tot kroningstad van Poolse monarge beperk was.

Ná die Derde Poolse Deling is Warskou in 1795 by Pruise ingelyf. Franse troepe het die stad in 1806 beset, en Warskou het as hoofstad van die Hertogdom Warskou, wat deur Napoleon Bonaparte geskep is, weer 'n administratiewe funksie vervul. Volgens 'n besluit van die Kongres van Wene het Warskou in 1815 die hoofstad van die sogenaamde Kongrespole geword. Die Koninkryk Pole het destyds 'n personele unie met Rusland gevorm.

Die inwoners van Warskou het in 1830/1831 en 1863/1864 in opstand teen die Russiese bewind gekom. Nadat die stad tydens die Eerste Wêreldoorlog tussen 1915 en 1918 deur Duitse troepe beset is, het dit eers in 1918 weer die hoofstad van die onafhanklike Republiek Pole geword. In 1939 is Warskou ná die Duitse inval beset. Die besettingsbewind het in April en Mei 1943 aanleiding gegee tot die opstand in die Warskou-ghetto en tussen Augustus en Oktober 1944 tot 'n algemene opstand. As gevolg van die oorlogshandelinge is groot dele van Warskou, na raming meer as tagtig persent van die stadsgebied, insluitende die historiese middestad en die meeste van sy historiese of andersins belangrike geboue, vernietig. Die helfte van die vooroorlogse bevolking, onder wie die oorgrote meerderheid van sy Joodse bevolking, het nie die Duitse besetting en die gevegte tussen die Duitse Weermag en die Rooi Leër in die laaste fase van die oorlog oorleef nie.

In Mei 1945 het net 'n tiende van die oorspronklike bevolking die ruïnestad en kwartiere, wat nie deur oorlogsdade vernietig is nie, bewoon. Die heropbou van Warskou, dikwels volgens historiese skilderye en ander dokumentasie van die vooroorlogse argitektuur, was 'n ongekende uitdaging. Nogtans het Warskouers daarin geslaag om hul stad tussen 1945 en 1963 oorwegend volgens die historiese boustyle te herbou. Die heropbou is gekoördineer deur 'n spesiale komitee waarin argitekte en stadsbeplanners saamgespan het.

In administratiewe opsig word Warskou in 18 stadsdistrikte (Dzielnice Warszawy) verdeel, waarby Śródmieście (Pools: "Stadsentrum") die binnestad behels. Sowat 'n kwart van die stadsgebied word deur parke en ander "groen ruimtes" beslaan.

  1. (pl) "Local Data Bank". Statistieke Kantoor in Warskou. Besoek op 24 Junie 2022.
  2. (en) "PIB et principaux composants – volumes". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 September 2015. Besoek op 6 Februarie 2017.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search