Whisky

Skotse whisky
Bottels whisky

Whisky (vanaf die Iers-Gaeliese woorde uisce beatha en ook vanaf die Skots-Gaeliese uisge baugh, wat albei water van die lewe beteken) is 'n alkoholiese drank wat gestook word van graanprodukte, veral mout. Die distillaat word dan verouder in houtbalies waarin dit sy kleur en karakter kry.[1] Hoe langer die veroudering duur, hoe hoër is die gehalte van die eindproduk. Premium-distillate verouder dikwels twaalf of meer jare lank.

Naas die verouderingsproses word whisky volgens sy geografiese oorsprong en stookmetode gekategoriseer. Die woord whisky word gebruik om te verwys na die drank van Skotse oorsprong of whisky wat in oorsese lande volgens die Skotse metode gestook is (onder meer in Kanada en Japan), terwyl die woord whiskey verwys na die drank as dit volgens die Ierse metode gestook is (naas Ierland self hoofsaaklik in die Verenigde State).

Ierse whiskey, wat van ongeturfde mout gestook en drie keer gedistilleer word, is in die algemeen sagter, met 'n vrugtige profiel. Twee keer gedistilleerde Skotse whisky kry sy karakter onder meer deur torfrook.

  1. Beeld, 11 Oktober 2003: Ou Jack, jy raak net beter hoe ouer jy word. Besoek op 21 Februarie 2016

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search