Wiki

'n Wiki-Wiki-bus op die lughawe van Honolulu, Hawaii, VSA die oorsprong van die term.

'n Wiki of wiki (uitgespreek as "whiekie" of "wiekie") is 'n webwerf (of ander dokumentversameling) wat 'n gebruiker toelaat om inhoud by te voeg, net soos in 'n Internetforum. ’n Tipiese Wiki bestaan uit veelvuldige bladsye wat deur die publiek geredigeer en verander kan word (gewoonlik gratis en oopbron) of waarvan die redigering beperk is tot ’n spesifieke organisasie wat dit vir sy eie interne kennisdatabasis gebruik.

Die term Wiki kan ook verwys na die samewerkende sagteware of Wiki-enjins wat ingespan word om só 'n webwerf te bedryf (sien Wiki-sagteware). ’n Wiki-enjin verskil van ander webgebaseerde sisteme soos blogsagteware en statiese webbladgenerators omdat die inhoud geskep word sonder enige aangestelde of gedefinieerde eienaar, deur enige ander gebruiker verander kan word en nie tot ’n spesifieke struktuur gebind is nie, maar aangepas kan word na aanleiding van die gebruikers se behoeftes. Wiki-enjins laat ook gewoonlik toe dat inhoud deur vereenvoudigde brontekstaal geskep kan word, wat dit meer toeganklik maak vir 'n groter groep gebruikers.

Daar is honderdduisende Wiki’s tans in gebruik, beide privaat en publiek, insluitende Wiki’s wat as kennisbestuurhulpbronne, nota-aantekeningsgereedskap, gemeenskapswebwerwe en intranette funksioneer. Sommige laat beheer toe oor verskillende funksies (toegangsvlakke); byvoorbeeld, redigeerregte kan die verandering, byvoeging of verwydering van materiaal toelaat. Ander mag toegang toelaat sonder om toegangsbeheer af te dwing. Verdere reëls kan opgelê word om inhoud te organiseer.

Ward Cunningham, skepper van die eerste Wiki-sagteware.

Ward Cunningham, die ontwikkelaar van die eerste Wiki-sagteware, die WikiWikiWeb (ook soms na verwys as die Portland Pattern Repository), het ’n wiki oorspronklik beskryf as “die eenvoudigste moontlike aanlyn databasis”

Die aanlyn ensiklopedieprojek Wikipedia, behalwe dat dit een van die populêrste webwerwe op die internet is, word sedert 2007 as een van die populêrste Wiki-gebaseerde webwerwe beskou. Wikipedia is nie ’n enkele wiki nie, maar eerder ’n versameling van honderde wiki’s wat elk tot ’n ander taal behoort.

Die woord Wiki is afkomstig van "Wiki wiki", die Hawaiise term vir "flink", “snel” of "uiters vinnig". Soms word "wikiwiki" of "WikiWiki" gebruik in plaas van "wiki". Die terme is uitruilbaar, alhoewel daar verskil word oor die gebruik van letterkas.



© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search