Windhoek

Windhoek • Windhuk
OtjomuiseǀAi-ǁGams

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Namibië Namibië
 Streek Khomas
 Koördinate 22°34′S 17°5′O / 22.567°S 17.083°O / -22.567; 17.083
 Stigting (Jonker Afrikaner) 1840
 Herstig op (Curt von François) 18 Oktober 1890
 Stadstatus 18 Oktober 1965
 Oppervlakte:  
 - Totaal 5 124,2043 km²[1]
 Hoogte bo seevlak 1 655 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2023) 486 169[1]
 - Bevolkingsdigtheid 95/km²
 Tydsone SAST (UTC+2)
 Klimaat  
 - Tipe Halfdroë klimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 19,1 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 23,3 / 13,1 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 367,4 mm
 Burgemeester Queen Kamati (SWAPO)
 Amptelike webwerf Windhoek

Windhoek (Duits: Windhuk, ; Engels: Windhoek, [wɪndhʊk]; Herero: Otjomuise, letterlik: "plek van stoom"; Nama: ǀAi-ǁGams) is die sentraalgeleë hoofstad van Namibië en lê in die Khomashoogland. Die stad is ongeveer 1 655 m bo seespieël. Dit beslaan 'n oppervlakte van 5 124 km² en volgens die 2023-sensus het dit 'n bevolking van 486 169 gehad.[1]

Windhoek se stadsentrum met die Christuskerk gesien vanaf die Onafhanklikheidsgedenkmuseum

Die stad het ontstaan by die plek van 'n permanente warmwaterbron wat bekend was aan die plaaslike herderstamme. Dit het spoedig ontwikkel nadat Jonker Afrikaner, kaptein van die Oorlam, hom daar gevestig en 'n steenkerk vir sy gemeenskap opgerig het. In die daaropvolgende dekades het talle oorloë en gewapende vyandelikhede gelei tot die verwaarlosing en vernietiging van die nuwe nedersetting. In 1890 is Windhoek herstig deur die Keiserlike Duitse leër-majoor Curt von François, toe die gebied deur die Duitse Keiserryk gekoloniseer is en dit die hoofstad van Duits-Suidwes-Afrika geword het. Tussen 1920 en 1990 was die stad die administratiewe sentrum van Suidwes-Afrika in die Unie van Suid-Afrika en is sedert die onafhanklikheidwording van Namibië op 21 Maart 1990 die hoofstad.

Die stad is geleë in die Windhoek-bekken, naby die land se geografiese middelpunt, omsluit deur die Erosberge in die ooste, die Auasberge in die suide en die Khomashoogland in die weste en noorde. Met sowat 20% van die Namibiese totale bevolking is Windhoek verreweg die belangrikste ekonomiese sentrum van die land en ook die sentrale knooppunt in die Namibiese vervoerstelsel. Byna al die Namibiese of in Namibië aktiewe maatskappye het hul hoofkantoor in Windhoek, wat ook 'n voortgesette immigrasie uit ander dele van die land tot gevolg het en op sy beurt Windhoek se sentrale posisie verder onderstreep. Vandag is Windhoek 'n moderne stad wat Duitse en Afrika-invloede meng.

  1. 1,0 1,1 1,2 (en) "Khomas Region". Namibiese Statistiekagentskap. Besoek op 31 Augustus 2024.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search