Wolk

Wolke bo 'n Australiese landskap.
Verligte wolke tydens sonsondergang.

'n Wolk is 'n sigbare massa vloeistofdruppels of bevrore kristalle wat in die atmosfeer hang, bo die oppervlak van die aarde of ander hemelliggaam. Die term word ook gebruik om na sigbare massas in die ruimte wat deur swaartekrag aangetrek word te verwys, soos interstellêre wolke en nebulae.

Op die aarde bestaan wolke tipies uit waterdamp, wat klein druppel of yskristalle vorm, gewoonlik 0,01 mm in deursnee. Wanneer biljoene druppeltjies of kristalle saamgegroepeer is, is hulle sigbaar as wolke.

Die grootte van die waterdruppels le tussen ongeveer 0,01 en 0,1 mm en die aantal wissel naastenby om 500 per cm3. Wolke word in die onderste lae van die atmosfeer (troposfeer) aangetref en hulle maksimale hoogte hang af van die geografiese breedte waaroor hulle voorkom.

Bokant die poolgebiede is die hoogte ongeveer 8 km en bokant die trope ongeveer 18 km bo die aardoppervlak. By die vorming van waterdruppels in die atmosfeer geld sekere vereistes, naamlik dat daar genoeg kondensasiekerne aanwesig moet wees en dat die waterdamp deur oorversadiging die doupunt en daarna kondensasie moet bereik. (By sneeuvorming is daar in werklikheid sprake van kristallisasie.)

Aangesien kondensasiekerne in die lug (in die vorm van stof-, roet-, soutdeeltjies, ensovoorts) in oorvloed aanwesig is, word wolkvorming in wese bepaal deur die prosesse wat tot oorversadiging lei. Dit word in hoofsaak bewerkstel lig deur die afkoeling van voghoudende lug as gevolg van uitstraling of opstyging.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search