Ystertydperk

’n Ronde huis met ’n grasdak uit die Ystertydperk, buite en binne.

Die Ystertydperk is die laaste van die drie tydperke waarin die vroeë geskiedenis van die mens ingedeel is. Dit volg op die Steen- en Bronstydperk en word gekenmerk deur die bewerking van yster en die maak van ystergereedskap. Die begrip is veral van toepassing op Europa, die Antieke Nabye Ooste en ander dele van die Ou Wêreld.

Daar is nie ’n wêreldwye begintyd van die tydperk nie, aangesien mense in verskillende streke op verskillende tye begin het om ystergereedskap te maak. In Griekeland, die Levant en Indië het die Ystertydperk omstreeks 1200 v.C. begin en in Wes-Europa omstreeks 800 v.C.

Van die voorwerpe wat in dié periode van yster gemaak is, sluit wapentuie en gereedskap in omdat die metaal sterker en makliker bewerkbaar was as brons. Brons, wat onbelangriker was, is gebruik vir die maak van versierings en perdetuie.

Die duur van die Ystertydperk wissel ook van streek tot streek. Dit is geskoei op argeologiese konvensie; die blote teenwoordigheid van yster is nie genoeg om op ’n kultuur uit die Ystertydperk te dui nie. Die "Ystertydperk" begin op ’n spesifieke plek wanneer die vervaardiging van yster of staal daar ’n punt bereik het waar ystergereedskap oor die algemeen van ’n beter gehalte was as dié van brons.[1] So kom farao Toetankamen se dolk van meteorietyster uit die Bronstydperk. In die Antieke Nabye Ooste het hierdie hierdie oorgang plaasgevind kort ná die sogenaamde Bronstydperk-verval, in die 12de eeu v.C. Die tegnologie het gou deur die Mediterreense gebied en na Suid-Asië versprei. Dit het stadiger na Sentraal-Asië, Oos-Europa en Sentraal-Europa versprei, en eers teen omstreeks 500 v.C. na Noord-Europa.

Daar word algemeen aanvaar die Ystertydperk het geëindig met die begin van die historiografiese rekord. Dit geld egter nie oral nie; in die Antieke Nabye Ooste word die afsnytyd beskou as die stigting van die Achaemenidiese Ryk omstreeks 550 v.C., en in Sentraal- en Wes-Europa die Romeinse verowerings van die 1ste eeu v.C. Die begin van die Wikingtydperk, omstreeks 800 n.C., word beskou as die einde van die Germaanse Ystertydperk van Skandinawië.

In Suid-Asië (die Indiese subkontinent) word die begin van die Ystertydperk beskou as by die ysterbewerkende "Geverfde Gryskeramiek"-kultuur in die 18de eeu v.C. en die einde as met die bewind van Ashoka die Grote (3de eeu v.C.). Die gebruik van die term "Ystertydperk" in die argeologie van Suid-, Oos- en Suidoos-Asië is meer onlangs en minder algemeen as vir Wes-Eurasië; ten minste in China het die voorgeskiedenis geëindig voordat ysterbewerking begin het, en die term word dus nie algemeen gebruik nie. Die Sahel (Soedanstreek) en Afrika suid van die Sahara val buite die drietydperkstelsel omdat daar geen Bronstydperk was nie, maar die term "Ystertydperk" word soms gebruik in verwysings na vroeë kulture wat yster bewerk het, soos die Nok-kultuur van Nigerië.

  1. Milisauskas, Sarunas (red.), European Prehistory: A Survey, 2002, Springer, ISBN 0306467933, 9780306467936, google books

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search