Alchemie

Alchemie is die antieke soeke na 'n metode, of kuns, om onedelmetale te verander in edelmetale - 'n proses wat as transmutasie bekendstaan. Alchemiste het beweer dat die beginmateriaal, 'n materiaal is wat geredelik bekombaar was vir die gewone mens. Die belofte van onbeperkte rykdom het oor die eeue heen die mensdom se nuuskierigheid in alchemie geprikkel.

Die afkoms van die term Alchemie is onseker. Alchemie se geskiedenis word herlei na Egipte, die Grieke en die Arabiere. Die Arabiere het 'n term "Al kimia" maar die oorspronklike betekenis van "Kimia" is onbekend. Die grieke het 'n woord "chyma" wat verwys na die verwerking van metale. Alchemie word terug herlei na 'n Egiptiese term "chem" wat swart beteken en verwys na Egipte as "Die land van swart grond". Hierdie teorie ondersteun die teorie dat alchemie vanuit Egipte na die Grieke en toe na die Arabiere, en daarna na Europa versprei het.

Alchemie het sy hoogtepunt bereik voor die ontwikkeling van die periodieke tabel en het staatgemaak op 'n klassifikasie van stowwe in terme van twee kontinuums: droog & nat op die een kontinuum, warm & koud op 'n ander kontinuum. Alhoewel alchemiste van verskeie stowwe gebruik gemaak het, het veral kwik, swael en sout 'n bepalende rol gespeel in die formules wat gedokumenteer is. Alchemiste het met sewe primêre metale gewerk naamlik: silwer, kwik, koper, goud, yster, tin en lood. Hierdie sewe metale is verbind aan die sewe sigbare ruimteliggame. Alchemie het swaar gesteun op sterrekunde om te bepaal wanneer sekere alchemistiese prosesse moes begin. Baie van die alchemie dokumentasie bly egter tot vandag toe onduidelik aangesien die alchemis gewoonlik gepoog het om sy waarnemings geheim te hou. In alchemie is daar geglo dat 'n bepaalde prosedure van die meng, oplos, opwarm en skeiding van stowwe nodig is om die steen van die wyses, die magisterium, te produseer. Die steen was die sleutel wat transmutasie moontlik gemaak het asook die verlenging van 'n mens se lewensduur.

Alchemie word egter op 'n mistieke vlak eerder verbind aan 'n filosofie met 'n groter omvang, as net die verandering van onedele metale in edelmetale. Die alchemis het geglo dat die uiterlike transmutasie van metale gepaard gegaan het met 'n innerlike transformasie van die siel. In sy diepste wese is Alchemie die ontsluiting van begrip vir die bestaan van die mens, asook die geheimenisse vir 'n ewige lewe. Binne hierdie konteks was die fokus geplaas op die veredeling van die mens se innerlike wese.

Verskeie oortuigings, praktyke, simbole en mites word gekoppel aan die wetenskap van alchemie. As gevolg van al die geheimhouding het alchemie ontwikkel as 'n sterk individuele dissipline. Alhoewel groot hoeveelheid materiaal geskryf is oor alchemie is daar baie teenstrydighede. Elke individu moes self die geheime van alchemie ontdek.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search