Algemene bestuur as sakefunksie in ondernemings

In ondernemings verwys die term algemene bestuur na die samevoeging en beheer van funksies om die onderneming in staat te stel om daarna te streef om sy doelwitte te bereik en om suksesvol te wees deur die grootste moontlike wins te maak. Bestuur is een van die produksiefaktore van ondernemings. Die ander is kapitaal, natuurlike hulpbronne en arbeid. Die primêre doel van bestuur is om 'n suksesvolle onderneming te vestig.

Algemene bestuur stel die sakeonderneming se visie, missie, doelwitte en mikpunte op in samewerking en na beraadslaging met alle tersaaklike bestuursafdelings. Hierdie funksie verwys na ál die aktiwiteite wat nodig is om die onderneming te bestuur. Hierdie aktiwiteite moet die kennis en vaardighede van die mense in die onderneming stuur om die onderneming se doelwitte te bereik.

Bestuur is vandag 'n hoogsgesofistikeerde proses en dit is noodsaaklik dat bestuurders behoorlik opgelei word. Daar is drie bestuursvlakke, naamlik topbestuur, middelbestuur en laerbestuur.

Algemene bestuur as sakefunksie funskioneer nie afsonderlik van die res van die sakefunksies nie, maar word binne elkeen gevind en omvat dus die hele onderneming. Algemene bestuur se taak is dus om 'n atmosfeer en omstandighede binne die onderneming te skep wat voordelig vir die bereiking van die onderneming se doelwitte sal wees.

Bestuur moet 'n doeltreffende organisasiestruktuur opstel wat take en verantwoordelikhede toewys wat vir elke vlak gepas is. Die doelwitte en mikpunte moet duidelik en realisties wees, want hulle vorm die norme waarteen die sukses of mislukking van die onderneming gemeet word.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search