Antarktika

Antarktika

Ligging van Antarktika

Oppervlakte 14 000 000 km² (280 000 km² ysvry, 13 720 000 km² met ys bedek)[1]
Bevolking ~5 000 (geen permanente nie)[2]
Regering Geen, bestuur onder die Antarktiese Verdrag
Gedeeltelike gebiedsaansprake Vlag van Argentinië Argentinië
Vlag van Australië Australië
Vlag van Chili Chili
Vlag van Frankryk Frankryk
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland
Vlag van Noorweë Noorweë
Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
Internet TLD .aq
Skakelkode +672
Ligging van Antarktika
Tipiese Antarktiese gletser waar dit by die see aankom aan die weskus van die Antarktiese Skiereiland
Kaart van die Antarktiese ekspedisies van Cook, Bellingshausen, Dumont d'Urville, Wilkes en Ross

Antarktika is 'n kontinent by die Suidpool van die Aarde, omring deur die Suidelike Oseaan en in twee verdeel deur die Transantarktiese Berge. Antarktika is die koudste plek op aarde (die laagste temperatuur ooit gemeet was op die suidpool: -94.7 °C[3]) en die kontinent is byna volledig met ys bedek. Dit is ook die kontinent met die laagste gemiddelde lugvogtigheid en die winderigste en hoogste (gemiddeld) kontinent op aarde. Die kontinent se 14 miljoen km² oppervlak maak dit die vyfde grootste kontinent, ná Asië, Afrika, Noord-Amerika en Suid-Amerika, en die grootste woestyn ter wêreld. Daar is geen permanente menslike inwoners nie en slegs plante en diere wat aangepas is tot die koue oorleef daar. Dit sluit pikkewyne, pelsrobbe, mosse, korsmosse en honderde soorte alge in. Die naam "Antarktika" kom van die Grieks antarktikos, "teenoor Arktika", die Noordpoolstreek, wat verwys na die Groot Beer-sterrebeeld wat slegs in die Noordelike Halfrond sigbaar is.[4])

Van al die ys op die wêreld lê 90% op Antarktika. Die gemiddelde dikte van die yskap bedra 2200 meter en op die dikste punt is die ys 4776 meter dik. Die meeste ys is miljoene jare oud, maar nie die hele Antarktika was die heeltyd onder die ys nie. 'n Brits-Sweedse ekspedisie het in 1949 ontdek dat groot dele van Antarktika, soos Koningin Maudland, tot ongeveer 10 000 v.C. nog ysvry was.

Alhoewel mites en spekulasie oor 'n Terra Australis ("Suidelike Land") tot die oudheid teruggespoor kan word, word algemeen aanvaar dat die kontinent vir die eerste keer in 1820 deur die Russiese ekspedisie van Michail Lazaref en Fabian Gottlieb von Bellingshausen waargeneem is. In die 19de eeu is die kontinent grootliks geïgnoreer as gevolg van die ongunstige omgewing, gebrek aan doeltreffende hulpbronne en die afgeleë ligging.

Antarktika is nie onder die politieke soewereiniteit van enige nasie nie. Sewe lande, Argentinië, Australië, Chili, Frankryk, Noorweë, Nieu-Seeland en die Verenigde Koninkryk, handhaaf egter gebiedsaansprake. Meeste ander lande erken nie die aansprake nie en die aansprake van Argentinië, Chili en die Verenigde Koninkryk oorvleuel mekaar. Menslike aktiwiteit op die kontinent is onderworpe aan die Antarktiese Verdrag wat in 1959 deur 12 lande geteken is. Dit verbied enige militêre aktiwiteite, ondersteun wetenskaplike navorsing en beskerm die kontinent se ekogebied. Volgehoue eksperimente word deur meer as 4000 wetenskaplikes met baie verskillende nasionaliteite en navorsingsbelange uitgevoer.

  1. United States Central Intelligence Agency (2011). "Antarctica". The World Factbook (in Engels). Government of the United States. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Junie 2020. Besoek op 22 Oktober 2011.
  2. "The World Factbook: Population". CIA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Desember 2018. Besoek op 30 November 2015.
  3. (en) http://www.theguardian.com/world/2013/dec/10/coldest-temperature-recorded-earth-antarctica-guinness-book
  4. (en) Henry George Liddell, Robert Scott, A Greek-English Lexicon "antarktikos". Besoek op 12 Februarie 2006.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search