Apokriewe boeke

'n Foto van 'n Bybel.

Die Apokriewe boeke (van die Griekse woord ἀπόκρυφος apókruphos, "om iets weg te steek") is die Joodse geskrifte wat nie in die Hebreeuse Bybel of in die meeste moderne Bybels ingesluit is nie. Met die term "Apokriewe boeke" word dié geskrifte aangedui wat oënskynlik Bybels is omdat hulle aan die naam van 'n geïnspireerde skrywer gekoppel word of aanvullende mededelings doen oor Bybelse gegewens, maar nie amptelik as Bybelboeke aanvaar word nie. Apokrief beteken hier niekanoniek, oftewel nie deel van die Bybel nie. Onder Protestante word die Ou en Nuwe Testamentiese Appokriewe boeke beskou as boeke wat nie in die Bybel hoort nie omdat dit:

  • nie onder God se gesag geskryf is nie;
  • verkeerde idees bevat;
  • in teenstelling met die ander 66 boeke staan.

Die Rooms-Katolieke Kerk se opinie daaroor verskil. In 1546 het die Kerk by die Sinode van Trente formeel bevestig dat die ekstra Ou Testamentiese boeke, wat nie in die Hebreeuse Bybel is nie, volgens hulle as gesaghebbend aanvaar is.

Die opvattings van die Protestante en Rooms-Katolieke stem ooreen wat die Nuwe Testament betref: Al die legendariese verhale wat afsonderlik van die Nuwe Testament ontstaan het, soos die sogenaamde evangelies oor die jeug van Jesus en "handelinge" van verskillende apostels, is deur Protestante sowel as Rooms-Katolieke eenparig as deel van die Bybel verwerp.

Wat die Ou Testament betref, bestaan daar wel 'n meningsverskil. By Protestante dui die benaming Apokriewe boeke in die algemeen op 'n bepaalde groep boeke waarvan die meeste wel as kanonieke boeke deur Rooms-Katolieke aanvaar word. Dit is hoofsaaklik 'n reeks geskrifte wat nie in die Hebreeuse Bybel voorkom nie, maar wel in die ou Griekse Bybelvertaling, die Septuagint. Die Rooms-Katolieke dui dié geskrifte aan met die tegniese term "deuterokanonieke boeke". Hulle is as ’n aanhangsel in ou uitgawes van die Nederlandse Statebybel opgeneem. Ook in die uitgawe van die nuwe Bybelvertaling van die Evangelies-Lutherse Kerk, kan 'n mens die meeste daarvan in 'n afsonderlike afdeling tussen die Ou en Nuwe Testament kry.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search