Arabiese woestyn

Die Arabiese woestyn is in westelike Asië geleë, en strek vanaf Jemen na die Persiese Golf, en vanaf Oman na Jordanië en Irak. Dit is 'n groot wildernis, wat die grootste gedeelte van die Arabiese Skiereiland beslaan, met 'n oppervlak van 2 330 00 km², wat dit die 4de grootste woestyn in die wêreld maak, en is die grootste woestyn in Asië. In die middel van die woestyn is die Rub'al-Khali, een van die grootste aaneenlopende sandgebiede in die wêreld.

Verskeie dierespesies (bv. wildsbokke, gemsbokke en akkedisse) wat aangepas is om in hierdie uiterste woestynklimaat te oorleef, kom hier voor. Hierdie area het ook verskeie kenmerkende soos rooi duine en dryfsand (Engels: quicksand) wat voorkom. Die klimaat is hoofsaaklik droog, en die grootste gedeelte kry ongeveer 100 mm reën per jaar (sommige gedeeltes tot so min as 50 mm per jaar), en die temperatuur wissel tussen baie hoë dagtemperature, en seisoenale vriestemperature snags.

Die Arabiese woestyn vorm deel van die woestyn en xeriese struikland-bioom, en die palaeoarktiese ekosone. Die biodiversiteit van die area is baie laag, maar daar kom wel 'n paar plantspesies voor wat endemies is tot hierdie area. Verskeie dierespesies wat vroeër hier voorgekom het (bv. gestreepte hiëna, jakkalse en ratels), het a.g.v. jagaktiwiteite, menslike indringing en habitat-vernietiging verdwyn. Die grootste bedreiging vir hierdie ekostreek is oorbeweiding, vernietiging deur die mens, en voertuie wat nie op paaie ry nie. Daar is egter 'n paar spesies wat weer hier hervestig is, en in verskeie wildreservate beskerm word.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search