Blommerangskikking

Blommerangskikking ter geleentheid van 'n formele middagete ter ere van Barack Obama as nuwe, 44ste president van die Verenigde State
Blommerangskikking met krisante in 'n antieke bottel
'n Japanse meisie leer die kuns van ikebana aan

Blommerangskikking is die kuns om blomme, takke, blare, vrugte, ensovoorts op so 'n manier in 'n houer te rangskik dat dit saam 'n dekoratiewe geheel vorm. Blommerangskikking het eers gedurende die 19de eeu in die Westerse wêreld opgang begin maak, maar in Japan, waar die tradisie ikebana genoem word, word die kuns al meer as 'n duisend jaar lank beoefen. Dit het tot vandag nog 'n groot invloed op die Westerse blommerangskikkingskuns van die 20ste eeu.

Die eenvoudigste manier van blommerangskikking is om 'n bos blomme in 'n houer te sit. As houer kan 'n blompot, 'n vaas of 'n bak gebruik word, maar ook drinkglase, kannetjies en dergelike. Benewens blomme word ook takke, blare, grasse, boombas, mos, vrugte, linte en ander klein voorwerpe gebruik. Vars geplukte of gedroogde blomme kan gebruik word; selfs gedroogde blomme wat met goue of 'n ander kleur verf bespuit is, word in blommerangskikkings gebruik.

In die Westerse wereld is daar gedurende die 19de eeu gebruik gemaak van spesiaal gekweekte snyblomme.

Eers gedurende die 20ste eeu het daar onder invloed van die Japanse blommerangskikkingskuns 'n belangstelling ontstaan in die moontlike gebruik van bloeiseltakke en wilde of veldblomme (die sogenaamde 'onkruid' waaruit 'n veldrangskikking saamgestel word). Vir meer ingewikkelde blommerangskikkings word hulpmiddels aangewend, byvoorbeeld draad, veral ook inmekaargedrukte ogiesdraad, wat van oudsher al gebruik word. Vandag word spykervoetstukkies van metaal of plastiek gebruik en ook 'n soort harde waterhoudende skuimvorm of "oase" waarin die blomme gedruk kan word.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search