Bloureus

’n Bloureus is ’n warm ster met ’n spektraaltipe van O of B (dus opmerklik blou) en ’n ligsterkteklas van III (reusester) of II (helder reus). Op die Hertzsprung-Russell-diagram word blou reuse bo regs van die hoofreeks aangetref.

Hulle is massiewe sterre wat die waterstof in hul kern opgebruik en die hoofreeks verlaat het. Hulle het ’n oppervlaktemperatuur van rondom 30 000 kelvin. Hulle kan ’n absolute magnitude van tot -5 of -6 hê (wat van 9 000 tot 25 000 keer so helder soos die Son is),[1] of selfs hoër. Hul oppervlaktemperatuur is so hoog dat ’n taamlike deel van hul energie-uitset in die ultravioletdeel van die spektrum val en dus onsigbaar vir die mens is.

Die term "bloureus" verwys na 'n verskeidenheid sterre in verskillende stadiums van hulle ontwikkeling en hulle het min in gemeen met mekaar. Dit verwys dus na sterre in 'n sekere streek van die HR-diagram eerder as na 'n spesifieke soort ster. Hulle is baie skaarser as rooireuse omdat hulle net uit swaarder en minder algemene sterre ontwikkel en omdat hulle net vir 'n kort ruk in die bloureusestadium bly.

Omdat O- en B-tipe reusesterre effens helderder is as gewone blou hoofreekssterre van dieselfde temperatuur en omdat baie van hulle redelik naby aan die Aarde is op die galaktiese skaal van die Melkweg, is baie van die helder sterre in die naglug voorbeelde van bloureuse, insluitende Beta Centauri (B1III); Mimosa (B0.5III); Bellatrix (B2III); Epsilon Canis Majoris (B2II) en Alpha Lupi (B1.5III).

Die naam bloureus word soms verkeerdelik gebruik vir ander helder sterre met 'n groot massa, soos hoofreekssterre, bloot omdat hulle groot en warm is.[2]

  1. "Magnitude Scale". 4 Augustus 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Februarie 2011. Besoek op 10 April 2011.
  2. "What is the life cycle of a blue giant star?". Besoek op 11 Desember 2017.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search