Boris Pasternak

Boris Pasternak
Sowjetse posseël uit 1990 wat Boris Pasternak uitbeeld.
Sowjetse posseël uit 1990 wat Boris Pasternak uitbeeld.
Beroep Digter, skrywer
Nasionaliteit Russies, Sowjet
Belangrike toekennings Nobelprys vir Letterkunde (1958)
Geboortenaam Boris Leonidowitsj Pasternak
Gebore 10 Februarie [O.S. 29 Januarie] 1890
Oorlede 30 Mei 1960

Boris Leonidowitsj Pasternak (Russies: Бори́с Леони́дович Пастерна́к; 10 Februarie [O.S. 29 Januarie] 1890 – 30 Mei 1960) was ’n Russiese digter, romanskrywer en letterkundige vertaler.

In sy vaderland is Pasternak se bloemlesing, My suster – die lewe, een van die invloedrykste versamelings wat nog in Russies gepubliseer is en sy vertalings van toneelstukke van Goethe, Schiller en Shakespeare is steeds gewild by Russiese gehore.

Buite Rusland is Pasternak die bekendste vir sy roman Dokter Zjiwago, wat afspeel in die laaste jare van tsaristiese Rusland en die eerste jare van die Sowjetunie. Dit is in Rusland verbied en uit die land na Italië gesmokkel waar dit in 1957 die eerste keer in Italiaans deur Giangiacomo Feltrinelli se Milaanse uitgewery Feltrinelli gepubliseer is as Il Dottor Zivago.

Die Nobelprys vir Letterkunde is die volgende jaar aan Pasternak toegeken[1] – die gebeure het die Kommunistiese Party van die Sowjetunie sowel verneder as woedend gemaak. Te midde van ’n geweldige veldtog teen hom deur die KGB en die Sowjet-skrywersunie het Pasternak teensinnig ingestem om die prys van die hand te wys. In sy brief aan die Nobel-komitee het Pasternak gesê die reaksie van die Sowjet-staat was die enigste rede vir sy besluit om nie die prys te aanvaar nie.

Teen die tyd dat hy in 1960 aan longkanker oorlede is, het die veldtog teen hom die internasionale geloofwaardigheid van die Sowjetunie geweldige skade berokken. Hy is vandag steeds ’n belangrike figuur in die Russiese letterkunde. Boonop is tegnieke wat die eerste keer deur Pasternak gebruik is, later voortgesit, uitgebrei en verfyn deur Aleksandr Solzhenitsyn en ander Sowjet-andersdenkendes.

In 1965 is ’n Hollywoodse rolprent met die Engelse titel Doctor Zhivago gemaak wat losweg op die boek gebaseer is met David Lean as regisseur en Omar Sharif in die naamrol. Dit was dekades lank gewild en is sedert 2010 die agtste mees winsgewende rolprent van alle tye in Amerika as inflasie in ag geneem word.[2]

  1. "The Nobel Prize in Literature 1958" (in Engels). Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Julie 2018. Besoek op 7 Oktober 2017.
  2. "Doctor Zhivago" (in Engels). Box Office Mojo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Julie 2019. Besoek op 20 Januarie 2010.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search