Brandenburgse Poort

Die Brandenburgse Poort in die aandskemer

Die Brandenburgse Poort in Berlyn is by die Pariser Platz ("Paryse Plein") in die buurt Dorotheenstadt in die stadsdistrik Mitte geleë. Die poort, wat tussen 1788 en 1791 in opdrag van die Pruisiese koning Frederik Willem II deur die argitek Carl Gotthard Langhans gebou is en oorspronklik as Friedenstor ("Vredespoort") bekend gestaan het, is tans die bekendste simbool van die Duitse hoofstad.

Die poort word tegelykertyd ook as 'n nasionale simbool beskou waarmee talle gebeurtenisse in die 20ste eeuse geskiedenis van Berlyn, Duitsland, Europa en die wêreld verbind word. Volgens sy boustyl word die Brandenburgse Poort by die vroeg-klassisistiese periode gereken.

Saam met die Pariser Platz vorm die poort die afsluiting vir die pragstraat Unter den Linden. Die Platz des 18. März ("18 Maart-plein") is aan die weskant van die poort geleë. Hier is die begin van die Straße des 17. Juni ("17 Junie-straat") wat deur die sentrale Tiergarten-park loop.

Tussen 1945 en 1990 was die Brandenburgse Poort op die grens tussen Wes- en Oos-Berlyn – en sodoende ook op die grens tussen die lidstate van die Westerse NAVO-alliansie en die Warskou-verdragstate geleë. Dit was tot die hereniging van Duitsland in 1990 'n simbool van die Koue Oorlog en daarna 'n simbool vir die hereniging van Duitsland en Europa.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search