Cape Argus

Die Burgstraatse kant van die gebou waar onder andere die Cape Argus saamgestel en gedruk is tot die gebou in 2011 vir R86 miljoen[1] aan 'n eiedomsontwikkelaar verkoop is. Die drukkery is geruime tyd voor die verkoping gesluit toe die Independent sy drukwerk uitgekontrakteer het.

Cape Argus is 'n poniegrootte-dagblad in Kaapstad wat op 3 Januarie 1857 deur Brian Henry Darnell en R.W. Murray opgerig is.

Dit was aanvanklik 'n oggendblad, maar het in 1883 'n middagblad geword. Die firma Saul Solomon & Co. het die koerant in 1862 oorgeneem, maar beland in die besit van die Argus Printing and Publishing Company in 1886 toe Francis Dormer dié maatskappy stig en die vorige eienaar bankrot speel. Vandag is die Argus Printing and Publishing Company Independent News & Media. Die koerant is op 1 Desember 1969 hernoem tot net The Argus. Die naam het egter nie inslag gevind nie en is in die nuwe millennium weer Cape Argus gemaak.

Die koerant was jare lank 'n teenstander van die destydse Nasionale Party, hoewel nie so uitgesproke soos die Engelse, Kaapstadse oggendblad, die Cape Times, nie. Die Cape Times het destyds tot dieselfde groep (SAAN) as die Rand Daily Mail behoort, waarskynlik die grootste teenstander van Apartheid onder die dagblaaie. Nadat SAAN in die middel jare tagtig finansiële probleme ervaar het, het die Argus Printing and Publishing Company die Cape Times bekom, sodat sowel Media24 as Independent News & Media in 2008 elk drie dagblaaie in Kaapstad uitgegee het. Die Engelse uitgawe van die Son is intussen gestaak.

  1. Property24.com, besoek 27 Februarie 2013

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search