Chanoeka

Die woord "Chanoeka" (חֲנֻכָּה‬) in die Hebreeuse alfabet (chet-noen-waw-kaf-hé)
'n Chanoekia in Kazimierz (Krakau)
Die Makkabeërs, skildery deur Wojciech Stattler in 1842
Die triomf van Judas Makkabeüs, skildery deur Peter Paul Rubens, 1634/1636
Chanoekaviering op 'n 18de-eeuse skildery deur 'n onbekende skilder in 'n privaat-versameling
'n Gedekte Chanoekatafel

Chanoeka (Hebreeus: חֲנֻכָּה‬, Tiberies: חנוכה, [χanuˈka], in Moderne Hebreeus, [ˈχanukə] of [ˈχanikə] in Jiddisj; letterlik: "inhuldiging", "inwyding"), ook bekend as Ligtefees, is 'n Joodse herdenking van agt dae wat aan die Chanoekawonder tydens die Tweede Tempel se herwyding in Jerusalem in 3597 (164 v.C.) herinner. Dit begin elke jaar op die vooraand van 25 Kislew in die Joodse kalender (November/Desember volgens die Gregoriaanse kalender). Die oudste verwysing na die fees is te vinde in die apokriewe boeke van die Makkabeërs[1] en het nie soos die meeste Joodse feeste sy oorsprong in die Tanag nie.

Tydens Chanoeka word die kerse van 'n kandelaar, bekend as Chanoeka-menora (of Chanoekia), met agt arms een-een aangesteek. Een kers word tipies bo of onder die ander of eenkant geplaas en sy lig word gebruik om die ander agt kerse aan te steek. Hierdie unieke kers staan bekend as die sjamasj (שמש, "dienaar"). Elke aand word een bykomende kers met die sjamasj aangesteek totdat al agt kerse op die laaste aand van die fees saam brand.[2] Ander Chanoeka-tradisies sluit in die speel met die dreidel (סביבון, sewiwón; vergelyk: tol) en die opdis van olie-gebaseerde kos soos latkes (לביבות, lewiwót; vergelyk: aartappelpannekoek of blini) en soefghanijót (סופגניות; vergelyk: bagel of pantsjkes). Sedert die 1970's organiseer die wêreldwye Chabad-Chasidiese beweging Chanoekavierings op openbare plekke in verskeie lande.[3]

Nes Poerim is Chanoeka een van die kleiner (na-Bybelse) Joodse feeste. Bedags is dit 'n gewone werkdag, maar vir die aand bestaan wel 'n paar bepalings hoe die kerse aangesteek moet word en hoe lank hulle moet brand. Die aangesteekte Chanoekia mag nie versteek brand nie en moet van buite af gesien kan word.

  1. (nl) Lou Evers en Jansje Stodel: Jodendom in de praktijk, 6de druk, 2011. ISBN 9022558851
  2. "How to Light the Menorah". chabad.org (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 November 2019. Besoek op 11 Januarie 2019.
  3. "JTA NEWS". Joi.org (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Oktober 2007.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search