Chesapeake Bay

Die gebied, waar Engelse setlaars in 1607 voet aan wal gesit het, word as First Landing State Park beskerm. Akteurs voer die historiese gebeure as toneelstuk op
Chesapeake Bay as dreineringsgebied (waterskeiding)
Jamestown Settlement, Virginië - gerekonstrueerde fort
Landsat-satellietfoto van Chesapeake Bay (in die middel) en Delaware Bay (regs bo)

Chesapeake Bay [ˈtʃɛsəpiːk] is die grootste estuarium of breë riviermonding in die Verenigde State, geleë in die deelstate Maryland en Virginië, waar dit oor 'n afstand van 195 myl (313 km) suidwaarts in rigting van die Atlantiese Oseaan strek, met 'n wydte van tussen vier myl naby Annapolis in Maryland en dertig myl naby Cape Charles in Virginië.

Chesapeake Bay is nie net die grootste van altesaam 850 riviermondings in die VSA nie, dit is ook die ekonomies produktiefste wat met sy uitgestrekte kuslyn van 11 700 myl 'n unieke en dinamiese ekostelsel vorm vir plante en diere sowel as die natuurlike basis vir 'n verskeidenheid bedrywe wat miljarde dollar bydra tot die VSA se bruto binnelandse produk (waaronder skeepsbou, toerisme, vissery en eiendomme) en nedersettings met 'n totale bevolking van meer as 18 miljoen.

Seekos soos oesters is so volop in die baai dat die plaaslike Eerste Nasie, Algonkin-Indiane, daarna verwys het as Chesepiooc of "Groot Seekosbaai". Meer onlangs is Chesapeake Bay beskryf as 'n reuse proteïenfabriek wat in die vroeë 20ste eeu 'n buitengewoon hoë opbrengs van jaarliks dertig miljoen pond oesters gelewer het. Daagliks het treine met dertien waens vol oesters vanuit Baltimore-hawe vertrek. Die huidige seekos-opbrengs se waarde oorskry steeds $1 miljard.[1]

Chesapeake Bay word dikwels beskryf as die streek wat die belangrikste rol in die geskiedenis van die Verenigde State gespeel het - vanaf die begin van die koloniale tydperk in 1607, toe Engelse setlaars aan die baai se suidoewer voet aan wal gesit en in Jamestown, Virginië die eerste permanente Engelse nedersetting in Noord-Amerika gevestig het, tot die tydperk van die Amerikaanse Rewolusie.[2]

Die geologiese kragte, wat die magtige riviermonding gevorm het, strek verder terug in die verlede. Die diep kanaal met 'n lengte van 200 myl, wat tans deur vragskepe bevaar word, is die oorspronklike rivierbed van die Susquehanna-rivier. Behalwe vir die James-rivier het oorspronklik alle riviere in die gebied met die Susquehanna saamgevloei voordat dit verder suid in die Atlantiese Oseaan uitgemond het. Stygende temperature teen die einde van die laaste kouetydperk meer as 10 000 jaar gelede het 'n geweldige proses in gang gesit waartydens dik lae gletserys, wat vanuit die verre noorde van die Amerikaanse vasteland tot die noorde van die huidige Pennsilvanië en New York gestrek het, gesmelt en die Susquehanna-riviervallei met reusevloede oorstroom het.

Gedurende die 1980's het wetenskaplikes nóg 'n belangrike ontdekking gemaak - 'n impakkrater naby Chesapeake Bay se huidige ontmoetingsplek met die Atlantiese Oseaan. Hierdie krater met 'n diepte van een myl en 'n wydte van 56 myl is die grootste in die VSA, gevorm deur 'n asteroïed of komeet wat teen 'n spoed van 50 000 myl per uur teen die aarde gebots het.[3]

  1. Howard R. Ernst: Chesapeake Bay Blues. Science, Politics, and the Struggle to Save the Bay. Lanham • Boulder • New York • Oxford: Rowman & Littlefield Publishers 2003, bl. 10-11
  2. Chris Dicken: Images of America - Chesapeake Bay Steamers. Charleston SC • Chicago IL • Portsmouth NH • San Francisco CA: Arcadia Publishing 2006, bl. 7
  3. Allison Blake: Explorer's Guides - Baltimore, Annapolis & the Chesapeake Bay. A Great Destination. 7th edition. Woodstock, VT: The Countryman Press 2010, bl. 17

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search