Community of Christ

Tempel van die Community of Christ in Independence (Missouri, VSA)
Kerkportaal met die seël van die Community of Christ

Die Community of Christ, wat vroeër as die Reorganized Church of Jesus Christ of Latter Day Saints (RLDS) bekend gestaan het, is 'n Christelike godsdienstige denominasie. Die kerk is in die 1860's deur Amerikaanse Mormone onder die leiding van Joseph Smith III gestig, wat Brigham Young nie as profeet erken het nie. Joseph Smith III was die seun van Joseph Smith, Jr., die stigter van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (LDS-Kerk), 'n restourasionistiese Christelike beweging wat gekritiseer is weens sy leerstellings van poligamie en vroeëre of heersende beleid wat as diskriminasie teen vroue, Swartes en LGBT-gemeenskappe beskou is. Die Community of Christ verwerp diskriminasie op grond van ras, geslag en seksuele oriëntering.

Die Community of Christ het sy hoofkwartier in Independence (Missouri, Verenigde State) en het volgens sy eie bewering meer as 250 000 lede in 1 100 gemeentes wat oor vyftig lande versprei is. 'n Suid-Afrikaanse gemeente bestaan sedert 2002 in Old Melville, Johannesburg.[1]

Die kerk, wat nog steeds die Bybel en die Boek van Mormon as godsdienstige skrifte aanvaar, verskil sterk van die meeste Christelike denominasies deur sy benadering tot die evangelie; in sy missie-verklaring word die bevordering van gemeenskappe, wat deur vreugde, hoop, liefde en vrede gekenmerk word, ten doel gestel. Lede word aangemoedig om hul eie teologie te kies, en die kerk volg 'n oorwegend nie-liturgiese tradisie. Die kerk beklemtoon die pasifistiese en kommunitariese aspekte van die Mormoonse leerstellings, en sommige van sy gemeentes steun intussen ook die ordinasie van vroue en huwelike van persone met dieselfde geslag. Die Community of Christ werk saam met ander kerke van die Ekumeniese Beweging, en sy tempels staan oop vir ander gelowiges. In teenstelling met die LDS-Kerk word sy dope deur ander Christelike kerke erken.

  1. "Welcome to the Community in Christ Church". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Julie 2020. Besoek op 26 Julie 2020.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search