Deklinasie

Regte klimming (blou) en deklinasie (groen) soos gesien van buite die hemelbol.

In sterrekunde is deklinasie (simbool δ) een van die twee rigtingkoördinate van 'n punt aan die hemelbol volgens die stelsel waarmee hemelliggame se posisie bepaal word. Die ander koördinaat is regte klimming.

Deklinasie in sterrekunde kan vergelyk word met breedtegrade in geografie soos geprojekteer op die hemelbol.[1] Punte noord van die hemelewenaar het 'n positiewe deklinasie, terwyl dié suid van die hemelewenaar 'n negatiewe deklinasie het. Die eenhede wat gebruik word om dit aan te dui, is meestal grade (°), minute of boogminute (') en sekondes of boogsekondes ("), met 90° gelyk aan 'n kwartsirkel. Deklinasies van hoër as 90° word nie aangetref nie, omdat die hemelpole die mees noordelike en suidelike punte op die hemelbol is.

'n Voorwerp by die

  • hemelewenaar het 'n deklinasie van 0°
  • noordelike hemelpool het 'n deklinasie van +90°
  • suidelike hemelpool het 'n deklinasie van -90°

Die tekens + of – dui gewoonlik aan of die waarde positief of negatief is.

  1. Moulton, Forest Ray (1918). An Introduction to Astronomy. Macmillan Co., New York. p. 125.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search