Die Burger

Voorblaaie van Die Burger, vroeg 2011.

Die Burger is die grootste Afrikaanse dagblad ter wêreld,[1] en word uitgegee deur Media24. Die eerste uitgawe het op 26 Julie 1915 verskyn.

In 2008 het dit 'n sirkulasiesyfer van 104 808 in die Wes- en Oos-Kaap gehad, maar teen 2012 het dit teruggesak tot sowat 60 000 en in die tweede kwartaal van 2013 tot 59 704 vir albei uitgawes. Die Saterdag-uitgawe se sirkulasie was toe 74 256 ('n jaar tevore was dit 77 668), vergeleke met Naweek-Beeld se 59 944 ('n jaar tevore 72 124).

Middel 2017 was die gesamentlik weekdagsirkulasie 47 673. Op 20 Julie 2018 is die frekwensie van die gedrukte uitgawe in die Oos-Kaap verander van ses dae per week tot net Vrydae, terwyl die volle koerant op al die ander dae van die week waarop dit voorheen verskyn het, steeds met advertensies en al as 'n e-koerant beskikbaar sou wees. Die Burger (Wes-Kaap) is nie deur dié verandering geraak nie. Dié koerant se sirkulasie vir weekdae was in die eerste kwartaal van 2020 35 349. In die eerste kwartaal van 2022 was Die Burger se sirkulasie 29 120, wat dit die derde grootste dagblad in Suid-Afrika gemaak het naas Daily Sun en Isolezwe. In dieselfde tydperk het die Wes-Kaap se twee Engelse dagblaaie, Cape Argus en Cape Times, saam 15 072 eksemplare per dag verkoop en 7 691 eksemplare gratis versprei.

  1. Newspapers ABC Q1 2022: Local is lekker but free is king

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search