Djed Moroz

’n Man in Weliki Oestjoeg, Rusland, wat soos Djed Moroz aangetrek is.
’n Blou Djed Moroz.

Die tradisionele karakter Djed Moroz (Russies: Дед Мороз; as verkleinwoord: Дедушка Мороз, Djedoesjka Moroz) speel in die kultuur van die Oos-Slawiërs ’n soortgelyke rol as Kersvader. Die naam beteken "Oupa Ryp".

Anders as Kersvader, bring Djed Moroz presente op Oujaarsaand omdat Kersfees in die voormalige Sowjetunie verbied was en Nuwejaarsvierings die plek daarvan ingeneem het, met Nuwejaarspresente- en kaartjies en ’n Nuwejaarsboom. Djed Moroz se helper is sy kleindogter, Snegoerotsjka (Russies: Снегурочка; Engels: Snow Maiden).

Djed Moroz se klere, wat rooi of blou kan wees, lyk ook effens anders as dié van Kersvader: Hy dra ’n vollengte-pelsjas, ’n ronderige pelshoed en óf viltstewels (valenki) óf hoë stewels (sapogi). Hy dra ’n lang towerstaf en ry op ’n troika in plaas van ’n slee.

Die amptelike woning van die Russiese Djed Moroz is die dorp Weliki Oestjoeg.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search