Drakensberge

Drakensberge
Ligging Lesotho en Suid-Afrika
Hoogte 3 482 meter bo seevlak
Reeks Drakensberge
Koördinate 29°23′S 29°27′O / 29.383°S 29.450°O / -29.383; 29.450
Bergtipe Basalt en Sandsteen

Die Drakensberge, wat oor 'n afstand van byna 1 000 kilometer van die Kaapse Stormberge deur die Vrystaat en KwaZulu-Natal tot by die Wolkberg in Limpopo strek, is die grootste bergreeks in Suider-Afrika.

Die Drakensberge skei die hoogplato van die Suid-Afrikaanse binneland van die laerliggende kusgebiede in die ooste van die land en is die grootste waterskeiding. Die Oranje- en Tugelarivier, twee van Suid-Afrika se grootste riviere, het hulle oorsprong by die Mont-aux-Sources (Frans: "Berg by die bronne").

Sneeuval kom gereeld voor in die winter, terwyl mis en reën die hele jaar kan voorkom.

Die Koninklike Natalse Nasionale Park is een van die mees bekende in Suid-Afrika. Naas die oorsprong van die Tugelarivier en die tweede hoogste waterval ter wêreld, die Tugelawaterval (912 meter), spog die park met meer as 170 voëlspesies, waaronder die bedreigde lammervanger. Die sentrale gedeelte van die bergreeks beskik oor 'n groot aantal voetslaanpaaie, wat ook toegang bied tot die rotskuns van die Boesmans.

Die uKhahlamba of Nasionale Drakensbergpark in KwaZulu-Natal is deur Unesco in 2000 as wêrelderfenisgebied gelys.

'n Panoramiese uitsig oor Giant's Castle

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search