Dwergster

Die verskil in grootte tussen die verskillende spektraaltipes.

Onder die term dwergster word gewoonlik ’n hoofreeksster verstaan. Dit is verreweg die talrykste soort sterre en het ’n groot genoeg massa om kernfusie te ondergaan. Die hoofreekssterre wat tans onder die Morgan-Keenan-stelsel in verskillende spektraaltipes geklassifiseer word, gebruik die letters O, B, A, F, G, K en M, wat strek van warm tot koud.

Klas Voorbeeld Temperatuur Massa Radius Ligsterkte
O Zeta Ophiuchi 30 000 K of meer M 5,4 R 1 630 L
B Regulus A 10 000–30 000 K 3,5 M R 150 L
A Delta Leonis 7 500–10 000 K 2,2 M 2,4 R 25 L
F Theta Bootis 6 000–7 500 K 1,5 M 1,8 R 4,4 L
G Son 5 500–6 000 K M R L
K Epsilon Eridani 4 000–5 500 K 0,8 M 0,8 R 0,3 L
M Gliese 581 2 500–5 500 K 0,3 M 0,4 R 0,002 L

Daarteenoor is niehoofreekssterre dié wat al gevorderd is en waarvan die waterstofvoorraad uitgeput is. Hulle het daarom uitgesit en het ’n groter ligsterkte.

Die term "dwergster" is oorspronklik in 1906 uitgedink deur die Deense sterrekundige Ejnar Hertzsprung, wat opgemerk het die rooiste sterre, wat as Klas K en M in die Harvardstelsel geklassifiseer word, kan in twee groepe ingedeel word: dié wat helderder as die Son is en dié wat dowwer is. Om ’n onderskeid te tref, het hy hulle onderskeidelik "reusesterre" en "dwergsterre" genoem.[1] Vandag word feitlik alle hoofreekssterre dwergsterre genoem.

Ander stellêre en substellêre voorwerpe het ook "dwergster" in hul naam, maar is nie hoofreekssterre nie en dus nie werklik dwergsterre nie:

  • ’n Witdwerg is die kern van ’n mediumgrootte-ster wat oorgebly het nadat die ster uitgesit en die kern sy buitenste lae weggestoot het.
  • ’n Swartdwerg is ’n witdwerg wat genoegsaam afgekoel het dat dit nie meer sigbare lig uitstraal nie. Dié voorwerpe is tans nog net hipoteties, aangesien geen van hulle nog waargeneem is nie.
  • ’n Bruindwerg is ’n substellêre voorwerp waarvan die massa nie groot genoeg is vir kernfusie om waterstof in helium om te sit nie; minder as sowat 0,08 sonmassas en meer as sowat 13 Jupiter-massas.
  1. Brown, Laurie M.; Pais, Abraham; Pippard, A.B., reds. (1995). Twentieth Century Physics. Bristol; New York: Institute of Physics, American Institute of Physics. p. 1696. ISBN 0-7503-0310-7. OCLC 33102501.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search