Edwardiaanse tydperk



Edwardiaanse tydperk

1901 tot 1910


Voorafgegaan deur
Victoriaanse tydperk


Opgevolg deur
Eerste Wêreldoorlog


Monarg
Edward VII


Die Edwardiaanse tydperk in die Verenigde Koninkryk strek oor die periode tussen 1901 en 1910, die regeringstydperk van koning Edward VII na wie dit vernoem is.

Die afsterwe van koningin Victoria in Januarie 1901 en die troonbestyging van haar seun Edward het die einde van die Victoriaanse tydperk gemarkeer. In teenstelling met sy moeder, wat ná die dood van haar eggenoot, die Duitse boorling prins Albert, 'n teruggetrokke lewe gevoer en min belangstelling vir sosiale gebeurtenisse getoon het, was Edward vol van lewenslus. Die koning het net soos die Britse heersende klas van daardie tyd gereeld reise na die vasteland van Europa onderneem en geesdrif vir die plaaslike modes en kunslewe getoon om uiteindelik die leier van 'n elite te word wat sy eie leefstyl sou skep.

Alhoewel Edward VII reeds in 1910 oorlede is, word die historiese term Edwardiaanse tydperk dikwels ook gebruik om na die periode voor die ondergang van die RMS Titanic in 1912, die tydperk voor die Eerste Wêreldoorlog in 1914, die tyd voor die herstelling van vriendskaplike bande met Duitsland in 1918 of die periode voor die ondertekening van die Verdrag van Versailles in 1919 te verwys. Anders as die regeringstydperk van sy moeder, wat as Goue Tydperk bekend gestaan het, is die Edwardiaanse tydperk deur politieke woelinge en maatskaplike veranderings gekenmerk waardeur voorheen uitgeslote groepe soos vroue en gewone werkers toenemend gepolitiseer geraak het.

In teenstelling met die Victoriaanse tydperk, wat in sommige opsigte met stagnasie verbind word, en die tydperk vanaf 1914, wat deur die Eerste Wêreldoorlog oorskadu is, was Edward se regeringstyd nogtans 'n historiese periode wat deur ekonomiese welvaart en stabiliteit ten opsigte van die Verenigde Koninkryk se buitelandse betrekkinge gekenmerk is. So is alliansies met Frankryk en Rusland gesmee wat vrede tussen die drie lande verseker het.[1]

  1. Mark Black: Edwardian Britain. A Very Brief History. eBoek/Kindle-uitgawe, sonder jaargetal, pos. 44-617

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search