Evolusie

'n Spekulatiewe filogeniese boom van alle lewende dinge, gebaseer op rRNA-geendata. Dit toon die skeiding aan van die drie domeine, die bakterieë, die argebakterieë en die eukariote.

In biologie is evolusie die proses waardeur nuwe trekke in bevolkings ontwikkel en dié dan voortgedra word van geslag tot geslag. Met die verloop van duisende jare het die proses nuwe spesies ontwikkel, tot vandag se 1 562 663 spesies.[1] Die filogenetiese "boom" op die regterkant toon die oorspronklike gemeenskaplike stam van, en latere verhoudings tussen die drie hoofdomeine van lewende wesens aan.

Die huidige begrip van evolusie is gebaseer op die teorie van natuurlike seleksie, ontwikkel in 'n joernaalartikel deur Charles Darwin en Alfred Russel Wallace in 1858, en wyer bekend gestel in Darwin se boek Die oorsprong van spesies in 1859. Natuurlike seleksie is die gedagte dat individuele organismes met genetiese materiaal wat aan hulle voordelige oorerflike eienskappe verleen, meer geneig tot oorlewing is as andere wat dit nie het nie, en gewoonlik meer tyd het om te kan voortplant as daardie andere. Deur voortplanting vermeerder die voorkomssyfer van sulke eienskappe in daaropvolgende generasies.

In die 1930's het wetenskaplikes Darwin se werk met die teorie van Gregor Mendel oor oorerflikheid, gekombineer tot 'n nuwe evolusie-sintese bekend as Neo-Darwinisme. Dié sintese beskryf evolusie as 'n verandering in die frekwensie van allele in 'n bevolking van een geslag tot die volgende. Die meganismes wat hierdie veranderinge veroorsaak is die grondmeganismes van bevolkingsgenetika: natuurlike seleksie, en genetiese skuiwing (Engels genetic drift), wat op sy beurt afhang van die genetiese verskeidenheid veroorsaak deur mutasie, genetiese rekombinasie en geenvloei.[2] Hierdie teorie het die sentraal-organiserende beginsel van moderne biologie geword, met direkte toepasbaarheid op onderwerpe soos antibiotiese weerstandigheid, eusosiaalheid in insekte, en die verbysterende biodiversiteit van die wêreld.

Charles Darwin in 1854, vyf jaar voor die publikasie van sy invloedryke boek.
  1. "Die rooilys van bedreigde spesies". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 April 2006. Besoek op 27 Mei 2006.
  2. "Hoe om evolusie te verstaan", Universiteit van Kalifornië, Berkeley, by http://evolution.berkeley.edu/evolibrary/article/0_0_0/evo_17 en http://evolution.berkeley.edu/evolibrary/article/0_0_0/evo_16.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search