Gdansk

Gdańsk
Danzig

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Pole Pole
 Woiwodskap Pommere
 Koördinate 54°21′N 18°39′O / 54.350°N 18.650°O / 54.350; 18.650
 Stigting (eerste verwysing) (Voor) 997
 Stadstatus 1263/1295
 Oppervlakte:  
 - Totaal 262 vk km
 Hoogte bo seevlak -2–180 m
 Bevolking:  
 - Totaal (16 Desember 2021) 470 633[1]
 - Bevolkingsdigtheid 1 800/vk km
 - Metropolitaanse gebied 1 080 700
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat  
 - Tipe Gematigde seeklimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur -
 - Gem. temp. Januarie/Julie -
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae - mm
 Stadspresident Aleksandra Dulkiewicz (PO)
 Amptelike webwerf www.gdansk.pl

Gdansk (Pools: Gdańsk, [ɡdaɲsk], ; Kasjoebies: Gduńsk, [ɡduɲsk]; Duits: Danzig, [ˈdantsɪç], ; Latyn: Gedanum of Dantiscum) is 'n hawe- en voormalige Hansestad in Noord-Pole met 470 633 inwoners (in 2021). Dit is wes van die Weichselrivier se monding in die geskiedkundige gewes Pomerelle geleë en dien sedert die administratiewe hervorming van 1999 as hoofstad van die Woiwodskap Pommere.

Gdansk vorm saam met Gdynia (Duits: Gdingen) en Sopot (Zoppot) 'n metropolitaanse gebied met 'n bevolking van meer as 'n miljoen mense wat as "Driestad" (Trójmiasto) bekend staan.

Die groei van Danzig het saamgeval met die ontsluiting van Oos- en Noord-Europa deur Christelike sendelinge, Duitse en Nederlandse kooplui, ambagslui en boere teen die begin van die 13de eeu.[2] Omstreeks 1600 het Danzig sy bloeitydperk as lid van die magtige Hanseverbond beleef. In 1793 is Danzig by Pruise ingelyf en het ná die Eerste Wêreldoorlog volgens die bepalings van die Verdrag van Versailles 'n "Vrye Stad" onder beskerming van die Volkerebond geword.

Gdansk was eeue lank 'n Duitse stad met 'n oorwegend Duitse bevolking en is eers as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 by Pole ingelyf. Dikwels word na Gdansk as 'n "Stad van Twee Verdrywings" verwys – terwyl verreweg die meeste van die Duitse bevolking in 1945 gedwing is om die stad te verlaat, is Poolse vlugtelinge uit Sowjet-Russies besette gebiede in Oos-Pole en Litaue (veral uit Vilnius en sy omgewing) in Gdansk gevestig. Die huidige stadsadministrasie doen moeite om versoening met Gdansk se oorspronklike Duitse bewoners te bewerkstellig.

Alhoewel Gdansk tydens die Tweede Wêreldoorlog grotendeels vernietig is – talle huise in die middestad is deur Russiese soldate aan die brand gesteek – het die stad sedert 1945 weer met sy oorspronklike stadshorison van historiese torings en gewels uit die Weichsel-vlakte verrys. Planne om Gdansk as 'n sosialistiese metropool met eenvormige woonstelblokke te herbou, is uiteindelik ten gunste van rekonstruksie laat vaar. Geen ander stad, wat volledig deur oorlogshandelinge verwoes is, het ooit op dieselfde manier soos Gdansk uit die puinhope van 'n oorlog herrys nie. Pole se befaamde restoureerders het later ook hul bystand aan soortgelyke heropbouprojekte in Baltiese metropole verleen. Gdansk was een van die gasheerstede tydens die Europese Sokkerkampioenskap 2012 wat Pole en Oekraïne saam aangebied het.

  1. (pl) "Local Data Bank". Statistiek Pole. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 April 2019. Besoek op 16 Oktober 2021.
  2. (de) Helfried Weyer en Arno Surminski: Ostpreußen. Berlyn: Nicolaische Verlagsbuchhandlung 2004, bl. 16

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search