Gety

Hoogwater by Alma, Nieu-Brunswyk, 1972.
Laagwater in dieselfde hawe, ook 1972.

Getye is die styging en daling van seevlakke wat deur verskeie faktore soos die swaartekraginvloed van die son en maan veroorsaak word. Ander faktore wat dit beïnvloed, is die rotasie van die aarde, die afstand van die ewenaar af, die waterdiepte en die vorm van die landmassa. Die afnemende gety ná hoogwater word ook eb genoem en die toenemende gety ná laagwater is bekend as vloed.

Wanneer die son en maan in een lyn lê en mekaar se aantrekkingskrag versterk, is hoogwater hoër as gewoonlik en laagwater laer; dan word van springgety gepraat. As hulle mekaar se aantrekkingskrag verswak, is hoogwater laer en laagwater hoër as gewoonlik; dit word dooigety genoem.

Plekke kan daagliks enkel-, dubbel- of gemengde getye ondervind. Die waterstand word nie net deur getye bepaal nie, maar ook deur weersomstandighede soos lugdruk en wind.

Getyverskynsels is ook nie tot oseane beperk nie, maar kan in enige stelsel voorkom waar ’n swaartekragveld in tyd en ruimte wisselings ondergaan. Die soliede deel van die aarde word byvoorbeeld ook deur getye beïnvloed, maar dit is nie so opmerklik as watergetye nie.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search